MIDDELBURG NUUS - Middelburg-landbougemeenskap het die afgelope week van ‘n staatmaker en geliefde afskeid geneem. Wright Mentz (63) (Weitz) is op 3 Mei oorlede nadat hy in 'n trompop botsing saam met sy vrou en twee plaaswerkers betrokke was.
Sy dood het skokgolwe deur die landbougemeenskap van Middelburg gestuur.
Mentz was een van drie seuns, waarvan die oudste broer, Stoffel nog leef. Mentz het sedert 1982 op die plaas, The Meadows, wat op die grens tussen Middelburg en Steynsburg geleë is, geboer.
Hy het ook vroeër jare sy pa op die plaas, Olievenkloof in die Steynsburg-distrik in die boerdery bygestaan en ook later ook sy broer, Stoffel.
Op 3 Mei het Mentz saam met sy vrou, Danita, en ‘n plaaswerker, asook die vrou van ‘n ander plaaswerker in sy voertuig, op pad na Middelburg-pad gery, toe ‘n taxi ‘n ander taxi wou verbysteek en in hom vasgejaag het. Die ongeluk het naby Allendale tussen Schoombee en Middelburg plaasgevind.
Sy vrou Danita was ernstig beseer en is op 17 Mei uit die hospitaal ontslaan. Sy sterk tans aan by haar dogter en skoonseun in Burgersdorp. Die ander passasiers het slegs ligte beserings opgedoen.
Polisiewoordvoerder kol. Priscilla Naidu bevestig dat van die passasiers in die taxi ook beseer is en dat die taxibestuurder ongeskonde daarvan afgekom het.
“Ek het my skoonpa leer ken as ‘n opregte, reguit mens, plat op die aarde - hy het die hele wêreld se kennis met hom saamgedra. Hoewel hy kwaai kon wees, was hy ook met kalmte kwaai. As sy skoonseun is my droom om eendag soos hy te wees, ‘n mens wat die mooi in die lewe en in ander kan raaksien,” sê Gustav van der Mescht, skoonseun van Mentz.
Hy was aktief betrokke by georganiseerde Landbou in die Oos-Kaap."
Hy laat sy vrou Danita, drie dogters, skoonseun en twee kleindogters agter. ‘n Saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’