STEYNSBURG NUUS - Die Covid-19-pandemie het ons swaar getref," vertel Marinda Coetzee, bestuurder by die Marais Steyn-tehuis vir bejaardes in Steynsburg.
"Ons inwoners is reeds sedert begin Julie tot hul kamers beperk en geen beweging word tussen inwoners toegelaat nie. Geen besoekers van buite word reeds sedert middel April in ons tehuis toegelaat nie.
"Ons eerste Covid-19-geval is vroeg Julie in die hospitaal opgeneem en tot op datum het ons vier sterfgevalle aangeteken. Nege bejaardes is op die herstelpad en 'n verdere agt positiewe gevalle is Vrydag geïdentifiseer.
"Ons inwoners is 'n gesellige klomp wat graag, onder normale omstandighede, saam kaart- en bordspeletjies in die sitkamer speel of buite in die tuin kuier. Hulle geniet dit ook om op die stoepe in die son te sit, maar die inperking maak dit vir hulle baie moeilik om die omstandighede te hanteer.
"Die personeel by Marais Steyntehuis loop ook deur onder die aanslag van die virus en talle versorgers en verpleegpersoneel moes reeds met verlof gaan as gevolg van positiewe toetsuitslae. Dit veroorsaak dat daar dikwels op baie kort kennisgewing personeel van buite, en in sommige gevalle selfs van buite Steynsburg, ingetrek moet word om die situasie te probeer beredder.
"Soveel siek mense vereis ook soveel meer sorg. Wat die situasie nog meer kommerwekkend maak, is dat Steynsburg-hospitaal se Covid-19-saal die afgelope twee weke vol is en daar nie plek is vir verdere innames nie."
In die pragtuin van die Marais Steyn-tehuis vir bejaardes in Steynsburg kuier die inwoners graag, maar nou met die Covid-inperking word hulle tot hul kamers beperk en geen besoekers word toegelaat nie. Foto: Teresa Opperman
Dringend benodig
Marais Steyn-tehuis benodig in hierdie stadium hulp in die vorm van suiker, koekmeel, mieliemeel, broodmeel, rys, blikkieskos en ook vars groente en vrugte. Vleis is altyd nodig.
Maar die heel grootste nood is finansieel van aard, aangesien addisionele personeel, ver buite die begroting van dié tehuis, aangestel moes word om die situasie te bestuur.
Suurstof is ook 'n uitgawe waarvoor daar nie in die begroting voorsiening gemaak is nie en addisionele weggooidoeke en linen savers word ook vir baie siek pasiënte gebruik.
Enigeen wat 'n bydrae wil maak of kan help kan Marinda Coetzee telefonies kontak tussen 09:00 - 15:00 by 048 884 0193.
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'