Gallery Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Lingcom Primêr was Woensdag in rep en roer om die sowat 90 Graad Eens te verwelkom wat hierdie jaar by hulle die groot skool gaan aandurf.
"Ons glo hulle gaan hulle beste voetjies voorsit," het waarnemende skoolhoof Basil Jacobs aan die Advertiser gesê. "Hierdie is vir hulle 'n nuwe begin, en ons weet die Liewe Vader sal met hulle wees."
Die kleintjies, netjies van hul kroontjie tot hul toontjie, vorm nou deel van 'n skool met ongeveer 765 leerders. Volgens Jacobs ontvang die skool nog laat inskrywings, en hulle kan dus nie doodseker van die syfers wees nie.
Darren Schoeman (5) sê hy is glad nie bang vir skool nie, en gaan hard werk omdat hy eendag 'n polisieman wil word. Leigh du Plessis wil ook eendag deel word van die SAPD, en sê sy sien die meeste uit vir inkleur in Graad Een.
Ernestine April (5) sê sy gaan 'n dokter word, en Darrel Schoeman (5), wat miskien nie so opgewonde is vir skool nie, sê hy wil net weer een jaar oud wees.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'