GRAAFF-REINET NUUS - Op 16 September 1992 is die 18-jarige Leilani Kuter wreed verkrag en vir dood agtergelaat. Sy was destyds 'n inwoner van die NG kerk-jeugsentrum in Vermeulenstraat, Pretoria en het onwetend 'n gevaarlike man met die naam "Frankie" in haar kamer toegelaat.
Wat daarna gebeur het, het Leilani se lewe vir altyd verander.
En 27 jaar later het Leilani besluit om haar stilte te verbreek en openlik oor haar nagmerrie te praat om so 'n dialoog te begin om ander vroue, mans en kinders te bemagtig en hopelik op dié manier, die stigma verbonde aan verkragting, te verminder.
Op 16 September 2019 het Leilani, geklee in geel, die kleur wat haar aanvaller gedra het, haar reis van 27 dae begin en elke dag 27 km geloop om standpunt teen seksuele aanranding en geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika in te neem.
Die doel was om fondse in te samel om noodvertroostingspakkies te koop om aan jong meisies te gee wanneer hulle seksuele aanranding aanmeld en deur die proses moet gaan om hulle stories te vertel. Bykomende geld is gebruik om met rehabilitasie en berading te help.
Leilani het haar reis van 729 km op 12 Oktober 2019 by die Roodepoort-atletiekstadion voltooi. Die uitdaging, wat vier provinsies gedek het en meer as 3 645 ure geneem het om te voltooi, is deur meer as 300 individue (sommige verkragtingoorlewendes) van alle ouderdomsgroepe ondersteun.
Leilani kon daarin slaag om meer as R250 000 in te samel en kon die fondse versprei aan Matla A Bana, The Go Purple Foundation, die Kinderwelsyn in Nelspruit, 1000 Women Trust en Matrix Men.
Die ervaring het Leilani laat besef dat sy baie meer kan doen om ander mense te help. Sy het hierna Yellow for Survivors gestig en het sedertdien nog 448 km voltooi. Sy onderneem ook toewydingstaptogte vir oorlewendes asook ter nagedagtenis aan diegene wat hulle lewens as gevolg van geslagsgebaseerde geweld verloor het.
Leilani is ook 'n motiveringspreker en ambassadeur vir SA Women Fight Back en Women for Change. Yellow for Survivors werk ook saam met Never Tap Out, wat klasse in teenverkragtingstegnieke aanbied en moontlik gemaak word deur Spar.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'