GRAAFF-REINET NUUS - Leerdervervoer is nie 'n luukse nie. Dit is is 'n reddingsboei vir duisende kinders wat opvoeding soek. Daar moet voortdurend geveg word vir leerders se veiligheid, hul regte en hul toekoms.
Skole heropen oor drie weke en kommer heers oor die vervoer van leerders na en van skole in kleiner dorpe, soos Nieu-Bethesda, Aberdeen, Steytlerville, Hofmeyr en Tarkastad - en veral ook plaasgebaseerde skole soos Schoombee Primêre Skool.
Busbestuurders ken nie die omgewing nie
Skoolaktiwiteite is die eerste paar weke van 2023 ingekort, as gevolg van die versuim van die departement om te sorg dat busdienste in plek is om leerders te vervoer. Probleme het ook opgeduik toe busbestuurders aangewys is om kinders te vervoer, sónder kennis van die omgewing.
Die globale posisioneringstelsel is glad nie effektief waar daar geen selfoonsein is nie en dikwels beskik die busbestuurder nie oor die nodige data om hierdie stelsels te gebruik nie, sê skoolhoofde.
Horatio Hendricks, lid van die Oos-Kaapse parlement en die DA se skadu-LUR vir onderwys, sê: "Die Makhanda- hooggeregshof-uitspraak, op 19 Desember, wat verklaar het dat die Oos-
Kaapse departement van vervoer se versuim om leerdervervoer te verskaf, onwettig
en ongrondwetlik is, is 'n oorwinning vir 40 000 leerders. Die hof se beslissings moet geïmplementeer word."
Hy sê die departement moet aan die hofbevel voldoen en verseker dat elke verdienstelike leerder toegang tot leerdervervoer aan die begin van 2025 het.
As Xolile Nqatha,die LUR van vervoer, daartoe verbind is om die lewens van die kinders van hierdie provinsie te verbeter en sy departement sy statutêre pligte nakom, dan sal amptenare verseker dat die hofbeslissings geïmplementeer word.”
- Die departement van vervoer, in samewerking met die departement van
onderwys, moet nog: - Alle uitstaande aansoeke vir leerdervervoer teen die einde van Januarie 2025 verwerk.
- Verseker dat die uitslag van elke aansoek om vakkundige vervoer binne tien dae nadat die besluit geneem is, gekomunikeer word.
Waar aansoeke geweier word, moet redes en besonderhede van die appèlproses gegee word. - Wat appèlle aanbetref, moet appèlle binne tien dae afgehandel word nadat die appèl ingedien is.
- Inhaalsessies voorsien; veral waar leerdervervoer nie aan kwalifiserende leerders verskaf is nie en gelei het tot afwesigheid vir meer as een week in 2024 se akademiese jaar. Sessies moet in skoolvakansies gereël word om agterstallige werk in te haal.
- 'n Omvattende, bygewerkte verslag moet maandeliks vir die volgende sewe maande by die hof ingedien word, waarin die status uiteengesit word van alle leerders in die provinsie wat aansoek gedoen het vir leerdervervoer.
- Die hof moet voorsien word van alle stappe wat geneem is om te verseker dat alle kwalifiserende leerders van die eerste dag van 2025 se akademiese jaar vervoer word.
Hendricks bedank die regshulpsentrum en die Khula-ontwikkelingsprojek vir hul pogings om hierdie saak aan die lig te bring." Alhoewel hierdie uitspraak 'n sprankie hoop verskaf, ontbloot dit ook die sistemiese verrotting binne die program."
Hendricks sê die Oos-Kaapse provinsiale regering moet onmiddellik aan die hof se opdrag voldoen en verseker dat geen kind agtergelaat word nie. "Die proses sal gemoniteer word en die regering sal aanspreeklik gehou word waar leerders van hierdie diens afhanklik is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’