KAROO NUUS - Heinrich Muller, LP en Oos-Kaapse Middelande se kiesafdelingsleier, het op 13 Augustus in Cradock besoek afgelê by inwoners van Hillside wat se krane al vir agt maande kurkdroog is.
Om sake te vererger, is net een van die vier watertenks wat deur die Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) in die gebied geplaas is, in 'n werkende toestand.
Cradock is in die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) geleë, maar die CHDM is verantwoordelik vir die voorsiening van water- en sanitasiedienste aan die plaaslike munisipaliteit. Ernstige elektrisiteitsvoorsieningsprobleme word ook gereeld ondervind.
Baie van die mense van Hillside word gedwing om lang afstande te stap om water by twee tenkwa's, wat daagliks beskikbaar is, sowel as die een operasionele tenk, te gaan tap. Die oorblywende drie tenks is leeg en nie in gebruik nie weens beskadigde krane en toebehore.
Die inwoners van Hillside word die fundamentele reg tot water ontsê en Muller het onderneem om die Oos-Kaapse LUR vir Cogta, Zolile Williams, te vra om dringend in te gryp.
"Uitgebreide wateronderbrekings het Cradock jare lank geteister en die CHDM het bewys dat hy nie in staat is om sy water- en sanitasiemandaat aan die IYM, wat ook Middelburg insluit, na te kom nie. Daar is reeds in die verlede aangevoer dat die CHDM gedwing moet word om afstand te doen van die water- en sanitasiebevoegdheid, maar tevergeefs. Ernstige kommer bestaan dat die langdurige wateronderbrekings tot 'n gesondheidskrisis sal lei," waarsku Muller.
Na navrae aan verskeie inwoners is dit duidelik dat Hillside nie die enigste wyk in Cradock is wat deurloop onder waterprobleme nie.
Op 14 Augustus het die munisipale bestuurder van die Chris Hani-distriksmunisipaliteit, Ggcobani Mashiyi, in 'n verklaring op WhatsApp gesê dat Cradock se middedorp en Cradock-Oos se water afgesny sal word nadat 'n pyp agter die SPAR-sentrum gebars het en dat spanne die fout so gou moontlik sou herstel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’