GRAAFF-REINET NUUS - Selfs nie eens die bibberkoue kon Graaff-Reinetters Saterdagoggend weghou van die NG kerk Graaff-Reinet se jaarlikse Winterfees nie.
Mens sou dink met die termometer wat op minus 6 grade gebewe het, sou die meeste mense nog ingelê het, maar stiptelik om negeuur het die eerste voete hul opwagting gemaak.
En van daar af het 'n konstante stroom mense opgedaag om die kostafels leeg te koop. Allerhande vleisprodukte, gaar en voorberei, pannekoek, gebak, vetplante en Chinese roerbraai is opgeraap.
Vrywilligers, boere uit die distrik en ander weldoeners het saamgespan en die kerk kon met vanjaar se Winterfees 'n stywe R66 000 insamel vir sy werksaamhede vorentoe.
Vleis, wors, hoender. Noem dit en dié twee braaiers, Bennie Smit en Johan Blignaut (regs), het dit op die kole voorberei. Daar's niks soos die geur van braaivleis om mense na hul beursies te laat gryp nie.
Die bibberweer het mense laat stroom na warm drinkgoed by dié stalletjie waar die ontvangs vuurwarm was. Foto's: Hugo Redelinghuys
Sakkie van Zyl (regs) se Chinese roerbraai was gewild onder die kopers.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'