OOS-KAAP NUUS - Twee gevalle van kinderverwaarlosing en -mishandeling wat op Nuwejaarsdag aangemeld is het kommer laat ontstaan oor die welstand van kinders oor feesdae.
Kabega Park-polisielede het op 1 Januarie gereageer op ’n voorval waar ’n agt maande oue baba in die Kuyga gebied verlaat is.
Volgens Brigadier Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder van die Nelson Mandelabaaise distrik, is Kabega Park Vispol-lede op patrollie in Chimaerastraat, Kuyga, voorgekeer deur ’n bekommerde lid van die publiek wat die baba gedra het.
Die lede het onmiddellik alle relevante rolspelers gekontak om ’n tydelike plek van veiligheid vir die kind te reël.
Hulle het hul eie geld gebruik om noodsaaklike items vir die baba te koop, insluitend toiletware, klere, doeke en kos.
By die polisiestasie het hulle die baba gewas, in ’n skoon doek en klere aangetrek, en verseker het dat die baba behoorlik gevoed is.
Die baba is by ’n plek van veiligheid in tydelike sorg geplaas.
Die persoon wat die baba aan die polisie oorhandig het, het ’n verklaring afgelê. Op 2 Januarie is die 27-jarige ma van die baba opgespoor en in hegtenis geneem op aanklagte van kinderverwaarlosing en -verlating. Sy het op 5 Januarie in die Gqeberha-landdroshof verskyn.
Jeffreysbaai
In die tweede voorval op Nuwejaarsdag is ’n 59-jarige vroulike kinderoppasser in hegtenis geneem nadat ’n tweejarige dogtertjie in Jeffreysbaai met oop wonde gevind is.
Volgens Gantana is die polisie om 04:00 op 1 Januarie ontbied na ’n klag van ’n beseerde kind by ’n huis in Govan Mbekistraat, Tokyo Sexwale, Jeffreysbaai.
Op die toneel het die polisie ’n kleuterdogtertjie met oop wonde in haar bolyf gevind.
Dit is onbekend hoe sy die beserings opgedoen het, aangesien die kinderoppasser na bewering onder die invloed van alkohol was.
Die kleuter is na die hospitaal geneem waar sy vir mediese behandeling opgeneem is.
Die verdagte sou na verwagting Maandag 5 Januarie in die landdroshof van Humansdorp verskyn het op aanklagte van kinderverwaarlosing en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die waarnemende provinsiale kommissaris, Generaal-Majoor Thandiswa Kupiso, het haar ontsteltenis uitgespreek.
“Dit was ontstellend en skokkend, dat voorkeur gegee is aan vermaak en drank bo die veiligheid van ’n hulpelose kind.
Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sal ’n deeglike ondersoek doen,” het sy gesê.
Gevalle van kindergeweld en -verwaarlosing kan by die volgende nommers aangemeld word:
Crime Stop: 086 001 0111
SAPD-noodlyn: 10111
Gantana het gesê hierdie tragiese voorvalle beklemtoon die toewyding van polisielede om die kwesbaarste te beskerm en die gemeenskap met sorg, empatie en professionaliteit te dien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’