GRAAFF-REINET NUUS — Soos wat jy deur Kroonvale in Graaff-Reinet ry, sien jy skielik ’n liggie skyn. Dan twee, dan drie... dan driehonderd.
'n Besoek aan dié straat oor die Kersgety is 'n 'moet' - Acasiastraat met sy pragtige Kersliggies is al immers legendaries.
Van Saterdag, 16 Desember, sal die inwoners van Acasiastraat weer soos oudergewoonte die hele straat met hul Kersliggies verlig.
Die straat is jaarliks versier met duisende ligte, sleë, bokkies en, natuurlik, die Kersvaders wat die straat op en af wandel.
Die doel hiervan? Om geld in te vorder vir die Graaff-Reinet en Distrik Kankervereniging... en om 'n skynsel van geluk oor elke besoeker se gesig te werp.
Elke aand - van 18:00 op die 16de tot en met Oujaarsaand - krioel die straat van die mense wat die straat besoek om die liggies te aanskou.
Daar is geen toegangsfooi - net een versoek: bring asseblief 'n paar munte saam as donasie om aan een van die Kersvaders te oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet nuus'