NXUBA NUUS - Die Nxuba Regional Court het op 12 Maart ’n jong oortreder tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ’n 15-jarige meisie in 2023.
Michael van der Walt (18), wat 15 jaar oud was ten tyde van die misdaad, is skuldig bevind aan die verkragting wat op 11 Maart 2023 by die klaer se huis in Nxuba plaasgevind het.
Ten tyde van die voorval was die beskuldigde en die klaer leerders by verskillende skole in Cradock.
Volgens Luxolo Tyali, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Oos-Kaap, was Van der Walt op die dag van die voorval op pad terug van ’n rugbywedstryd in Bloemfontein.
Die klaer se familie, wat hom oor naweke gereeld by hul huis verwelkom het, het hom by ’n vulstasie opgelaai en huis toe gebring.
Later daardie aand het Van der Walt die meisie se kamer binnegegaan en haar verkrag.
Getuienis in die hof het aangedui dat die klaer tydens die aanval nie kon roep of weerstand bied nie omdat sy stomgeslaan van skok was.
Die volgende oggend het die klaer se pa vir Van Wyk op die vloer in sy dogter se kamer gesien, maar hy was nie bewus van wat die vorige aand gebeur het nie.
Die klaer het die voorval aanvanklik vir haarself gehou.
In Junie 2023 het sy egter ’n vriendin in haar vertroue geneem wat haar aangemoedig het om haar ma te vertel.
Die saak is daarna by die polisie aangemeld en Van der Walt is kort daarna, terwyl hy nog minderjarig was, in hegtenis geneem.
Hy is later hangende die verhoor op borgtog vrygelaat.
Tydens die verhoor het Van der Walt onskuldig gepleit en aanvanklik ontken dat hy die aand by die klaer se huis was.
Toe hy egter met WhatsApp-boodskappe gekonfronteer is wat hy aan die klaer se ma gestuur het, het hy erken dat hy wel daar was.
Die hof het ook getuienis van die klaer, haar vriendin, haar ma en ’n dokter van die plaaslike hospitaal aangehoor.
Die klaer het traumaberading en ander bystand by die Thuthuzela Care Centre in Nxuba ontvang.
Na oorweging van die bewyse het die hof Van der Walt skuldig bevind en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis.
As ’n eerste oortreder en gegewe sy ouderdom, sal hy sy vonnis aanvanklik in ’n jeugkorrektiewe fasiliteit uitdien waar hy rehabilitasie- en beradingsprogramme moet volg.
Teen die ouderdom van 21 sal hy na ’n volwasse korrektiewe fasiliteit oorgeplaas word om die res van sy vonnis uit te dien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’