Video
CRADOCK NUUS EN VIDEO - Die elektrisiteitsvoorsiening na sekere gebiede binne die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYPM) is sedert verlede Vrydag, 2 Februarie, opsetlik deur die munisipaliteit ontkoppel.
Die gemeenskappe van Cradock, veral Michausdal en sentrale dorp word erg deur die onderbreking geraak. Die mense in Middelburg van Kwanozame, Lusaka, Midros, Rosmead en sentrale dorpsgebiede is ook geteiken.
Verskeie gemeenskappe het gisteraand in Michausdal Cradock en voor die Middelburg munisipale kantore vergader om hulle ongelukkigheid uit te spreek.
In Middelburg het inwoners daarop aangedring om die burgemeester en die ANC-leierskap te sien.
Dit is deur die plaaslike polisie en Black Panther-sekuriteit verhoed. Kobus Botha, die DA se parlementslid vir Cradock en Middelburg in die Oos Kaapse Wetgewer, sê dat daar baie ongelukkigheid oor die afsny van elektrisiteit is, aangesien inwoners, volgens hom, nie genoegsame tyd gegun is om voorsorgmaatreëls te tref nie, en sommige ook nie kennis gedra van die munisipaliteit se voorneme om die kragtoevoer af te sny van verbruikers, oor 'n naweek, wat glo agterstallig met hulle munisipale rekening is nie.
Botha het Dinsdag 6 Februarie, in die Oos-Kaapse provinsiale wetgewer in Bhisho, vir LUR Zollie Williams, wat vir plaaslike owerhede verantwoordelik is, gaan sien oor die aangeleentheid en ook ‘n geskrewe memorandum, met die inwoners se griewe aan hom gestuur.
Volgens Botha word daar nog gewag op terugvoering van Williams.
Die Advertiser het ook op Woensdag ‘n oproep van ‘n besorgde en bekommerde inwoner van Cradock ontvang. Sy het gesê dat die situasie baie onstabiel is en inwoners baie ongelukkig is. Volgens haar het die inwoners nooit die kennisgewing van die munisipaliteit ontvang nie.
VIDEO: Onstoke gemeenskapslede van Middelburg het gisteraand, 7 Februarie by die plaaslike stadsaal bymekaar gekom en daarop aangedring dat die burgemeester en ANC-leierskap hulle toespreek.
Botha sê ook dat inwoners nou gedwing word om 25% van hulle uitstaande skuld te vereffen voordat elektrisiteit weer aan verbruikers voorsien kan word.
Volgens nog ‘n bron het ‘n bejaarde R3 000 gaan leen om 25% teen haar agterstallige munisipale rekening af te betaal om sodoende krag te kon koop. Die bejaarde het glo reeds betaal, maar kan steeds nie elektrisiteit aankoop nie, hy sal steeds R580 per maand moet betaal om die skuld te verhef.
'n Navraag rakende die aangeleentheid is aan die munisipaliteit gerig, maar geen terugvoering is ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’