KWANOJOLI NUUS - Huis Silwerjare in Somerset-Oos (KwaNojoli) het die afgelope maand twee heerlike bederfgeleenthede beleef.
Riëtte Lombard, bestuurder van Huis Silwerjare, sê dat Philip Moolman as gaskunstenaar opgetree het tydens Avbob se jaarlikse besoek aan Huis Silwerjare.
Almal was baie opgewonde oor die vooruitsig.
“Dit was ’n yskoue dag, maar die inwoners en lede van die publiek het glad nie toegelaat dat dit hulle weghou nie,” vertel Lombard.
Die teetafel is gedek en die eetsaal is met blommerangskikkings.
Soveel mense het vir die geleentheid opgedaag dat ekstra stoele moes ingebring word.
Lombard bedank Johan Nel, hoof van Laerskool Gill, wat die stoele voorsien het.
“Hierdie was ’n heerlike middag met mooi musiek en so hier en daar ’n skerp grappie.
Twee van Philip se familielede vanuit die gemeenskap het ook kom groet met foto’s en natuurlik al die ‘onthou jy nogs’.”
Na afloop van die optrede is koffie en koekies - in die tehuis se kombuis gebak - geniet.
Huis Silwerjare bedank Avbob vir die moeite wat hulle elke jaar doen om die kuiers spesiaal te maak.
Rojale geskenk
Die tweede groot bederf was ’n besoek en rojale skenking aan Huis Silwerjare deur Tollie’s African Safaris, waar die Jordaangesin en ’n hele span Amerikaanse jagters opgedaag het met ’n skenking aan Huis Silwerjare.
Hulle het nie net mieliemeel, suiker, rys en stampmielies ontvang nie, maar ook wildsvleis wat vir baie heerlike etes gaan sorg.
Die inwoners was baie bly oor die spesiale bederfpakkie wat elkeen ontvang het.
Diegene wat op die dag nie na die eetsaal kon gaan nie, is in hul kamers besoek.
“Ons weet waarvan on inwoners hou, en dit was heerlik om te sien hoe opgewonde hulle was om die pakkies oop te maak. Sulke dade van omgee maak ’n werklike verskil in ons inwoners se daaglikse lewens. Dankie vir die positiewe verskil,” sê Lombard.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’