HOFMEYR NUUS - Twee Nederlanders, wat tans in Suid-Afrika werk, Else Vooijs en Rachel Helms, het verlede week besoek afgelê by Hofmeyr Hugs of Hope. "Ons het met groot opgewondenheid na die besoek uitgesien," sê Estelle Kruger, winkelbestuurder by Hofmeyr Hugs of Hope.
Vooijs is betrokke by die Mother and Baby Clinic in Jeffreysbaai, terwyl Helms in Tarkastad by die Sparrows-kinderoord inskakel.
Hulle besoek aan Hofmeyr Hugs of Hope was op aandrang van hul borg in Nederland, wat graag by meer organisasies sonder winsmotief (NPO's) in die platteland van die Oos-Kaap wil betrokke raak.
"My eerste indrukke van die gemeenskapsentrum op Hofmeyr was absoluut oorweldigend," deel 'n verbaasde Vooijs mee. "Die dorpie lyk so stil, rustig en skoon, dat mens glad nie kan glo daar is iewers so 'n gewerskaf aan die gang nie."
"Dit sal weliswaar die hele landskap van Suid-Afrika verander as alle klein dorpies hul gemeenskappe so bymekaartrek om 'n verskil te maak," was Helms se reaksie.
Hulle het foto's geneem en sal volledig verslag lewer aan hul borgmaatskappy in Nederland, met insette vanaf die bestuur van Hofmeyr Hugs of Hope.
Die Hugs-bestuur het die positiewe reaksie verwelkom. "Hugs sien uit na 'n samewerkingsooreenkoms. Buitelandse belangstelling is altyd van kardinale belang."
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'