HOFMEYR NUUS - Die aktiewe VLV-tak van Hofmeyr het die verlede week hul jaareindfunksie by die plaaslike Victoria Boetiek-hotel in Hofmeyr aangebied.
Die takvoorsitter, Annerien van der Merwe, het tydens die geleentheid haar oorsig van 2021 aan die lede deurgegee. Sy het, onder andere, gesê Covid-19 het sy impak beduidend laat voel.
"Nie net het die pandemie 'n veranderde wyse van vergaderings aangedui nie, maar ons moes ook lede groet wat deur Covid weggeneem is."
Die nuwe bestuur het hul jaarbeplanningsvergadering vroeër die dag gehad en daar is baie nuwe idees op die nuwe jaarprogram.
Estelle Kruger, wat die afgelope 15 jaar sekretaresse was van Hofmeyr VLV, het uit diens getree.
Isabel du Plessis is as nuwe sekretaresse verkies.
Keurige eetgoed en pragtige vroue met deftige klere was aan die orde van die dag om by die pragtige hotel in te skakel. Die uitdaging was nie verniet "dress to impress" nie en Rosemary Jordaan het met die titel as besgeklede VLV-dame vir 2021 weggestap.
Dada de Jager is aangewys as Hofmeyr se VLV-vrou van die jaar.
Sy het deurgaans uitstaande artikels gelewer op tak, konferensie- en kongresvlak en is 'n puik verteenwoordiger van Hofmeyr VLV, wat altyd vir hulle 'n goeie woord sou doen.
"Dada is 'n versinne-beelding van die VLV-vrou waaraan Hofmeyr VLV geken wil word.
Sy is 'n puik voorbeeld vir die jonger lede en die ouer lede het groot respek vir haar toewyding, wysheid, insig, betrokkenheid en diensbaarheid aan Hofmeyr VLV en die breër gemeenskap van Hofmeyr.
Hofmeyr VLV is baie trots op hierdie VLV-lid," het Annerien van der Merwe, voorsitter van Hofmeyr VLV, vertel.
Hofmeyer se nuwe VLV-bestuur vir 2022 is pas aangewys. Hulle is agter, van links: Nadia Bosch (ondervoorsitter en sameroeper van landbou en tuinbou), Estelle Kruger (sameroepster openbare sake), Melanie Fourie (hulpsekretaresse), Elisma de Jager (sameroeper van gesondheid en sameroeper van kuns en handvlyt). Voor: Isabel du Plessis (sekretaresse), Annerien van der Merwe (voorsitter), Dada de Jager en Alica Jansen (tesourier). Afwesig: Marguerite Hattingh (sameroeper van opvoeding en kultuur).
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'