HOFMEYR NUUS - 'n Hofmery-legende, Flip Marais, het onlangs sy 80ste verjaardag saam met sy familie, kinders en talle kleinkinders gevier.
Sy dogter, Naretha Stockenström, het ná afloop van die verjaarsdagvieringe haar ervarings van haar pa met Graaff-Reinet Advertiser gedeel.
My pa, Flip (Philipus Rudolph Venter Marais), is gebore op 1 April 1941 en het in Hofmeyr grootgeword en skoolgegaan. Hy is die broer van Izak, Regi en Mariza. Hy is in 1965 getroud met Lorraine van der Meulen en uit die huwelik is drie kinders gebore: Izak Marais, ek, Naretha Stockenström en Mariette van Deventer.
Hy is ook oupa van ses kleinkinders.
Ná Lorraine se dood in 1988 trou hy met Heillie Coetzee en word hy nog vier dogters en sewe kleinkinders ryker. Hulle was 31 jaar getroud tot haar afsterwe in Desember 2020.
My pa het al die jare op Toekoms en Aandenk in die Hofmeyr-distrik geboer. Hy woon nou sewe jaar op die dorp, maar ry nog gereeld plaas toe waar hy nog 'n paar skape aanhou. Hy is baie lief vir diere, veral perde, en het vroeër jare gereeld sy perde geskou. Hy het ook verskeie gunsteling skaaphonde aangehou en vertroetel, maar dit is moeilik om skaaphonde in die dorp aan te hou.
Heillie se kinders, wat hy soos sy eie kinders behandel en lief het, het saam vir hom 'n pragtige verjaarsdag op Heillie se dogter, Louise Lötter en haar man, Gert, se plaas in die Tarkastad-distrik gehou.
'n Paar dae later het my pa se kinders, broers en suster en nog familie op Hofmeyr bymekaar gekom en ‘n naweek saam gekuier en gebraai om sy 80ste verder te vier.
My pa is algemeen bekend as 'n besondere saggeaarde mens waarby ons soveel kon leer. Hy het al deur baie diep waters in sy lewe gegaan, maar is iemand wat deur die krag van die Here net vorentoe kyk en die beste van elke situasie maak.
Hy sal dikwels ten koste van homself aan mense rondom hom gee. Hy is baie geliefd en word gerespekteer deur sy kinders en kleinkinders. Ons is geseënd om hom in ons lewens te hê.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'