HOFMEYR NUUS - Susan Vermaak, wat op 2 Februarie na 'n stryd met kanker oorlede is, het diep spore op Hofmeyr getrap en talle kinders se lewens aangeraak.
Vermaak, 'n oud-skoolhoof van Hofmeyr Primêr, is op 12 Desember 1945 op Cradock gebore en was in 1963 hoofmeisie van Rocklands Hoër Meisieskool.
Vermaak, toe 'n nooi Oosthuizen, het aan die Onderwyskollege van Kaapstad studeer en in 1967 by Noupoort Laerskool begin onderwys gee.
Op 14 Desember 1968 trou sy met Naas Vermaak en hou skool in Steynsburg en Teebus van 1969 tot 1975.
Sedert 1976 tot met haar aftrede in 2006, het sy skoolgegee by Laerskool Hofmeyr en was skoolhoof van 1989, 'n volle 17 jaar.
Sy het drie jaar voor haar aftrede in 2003 haar B.Ed graad aan die Nelson Mandela Universiteit verwerf.
Die gemeenskappe waarin sy gedien het onthou haar as 'n sterk leiersfiguur met Christenwaardes.
Sy het na haar aftrede as voorsitter van Hofmeyr VLV gedien, was lid van die Vrouediens, Tuinbouklub en het graag in Hofmeyr se koor gesing en toneel gespeel.
"Sy het met wysheid en insig gedien," sê Ferdinand Boll, voormalige predikant op Hofmeyr. "Haar huis was altyd oop vir besoekers en sy het ' voorbeeld gestel in die manier waarop sy haar vier seuns, en die hele gemeenskap se kinders, opgevoed het."
Sy laat haar eggenoot, Naas van Maryland-boerdery na, asook vier seuns, vier skoondogters en 10 kleinkinders.
• Die troosdiens is 10 Februarie 2023, om 11:00, vanuit die NG Kerk Hofmeyr.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'