KAROO NUUS - 'n Geliefde inwoner Heillie Marais (76), is die afgelope week in 'n hospitaal in Bloemfontein, aan Covid-19 oorlede.
Jennifer van Rensburg, vroeëre buurdogter van die gesin, betreur haar heengaan op sosiale media met die woorde: "Sy was voorwaar 'n vrou soos Salomo in Spreuke beskryf."
Heillie is op 2 September 1944 as die dogter van Wentzel en Tok Lombard op Cradock gebore. Sy voltooi haar skoolopleiding by Rocklands Hoër Meisieskool, waarna sy by Universiteit van Stellenbosch verder studeer in die onderwys. Sy hou daarna skool in Middelburg, Oos-Kaap.
Sy tree in 1966 in die huwelik met Bennie Coetzee, 'n boer van Middelburg, en uit die huwelik is vier dogters gebore. Bennie ontval haar op 31 Maart 1981, waarna sy weer na Cradock verhuis, en waar hul dogters hul skoolopleiding voltooi.
Sy tree op 4 Maart 1989 in die huwelik met Flip Marais van Hofmeyr.
Tydens haar verblyf in Hofmeyr het sy vir baie jare op die sirkelbestuur van VLV-sirkel Cradock gedien. Sy was ook die plaaslike takvoorsitter van die VLV. Die egpaar was ook betrokke by die NG kerk van Hofmeyr, waar sy gereeld haar kant gebring het by kerkgeleenthede en etes wat deur die kerk aangebied is.
Heillie was ook aktiewe lid van die plaaslike tuinbouklub, en lid van die Vroue Bybelstudiegroep en Hofmeyr Hugs of Hope.
Die egpaar was ook betrokke by die Hofmeyr-landbouvereniging en -skougenootskap. Sy was 'n uitstekende kok en kon heerlike etes voorberei, en ook op groot skaal spyseniering doen. Masjienborduurwerk en blommerangskikkings was ook een van haar groot liefdes. Bowenal was dit haar betrokkenheid by haar gesin, en hulle kinders, asook haar uitgebreide familie, wat die aandag getrek het. Sy het nooit teruggestaan nie, maar was altyd beskikbaar wanneer hulle haar nodig gehad het.
Sy laat haar eggenoot, Flip Marais en haar vier dogters, Louise Lötter, Hanlie Steyn, Jacolien Ungerer en Christel Taylor agter.
Daar is ook sewe kleinkinders, en ses agterkleinkinders wat haar baie gaan mis.
Die kinders van haar eggenoot, Izak Marais, Mariette van Deventer, Naretha Stockenström, asook ses kleinkinders het haar ook as 'n ma geken en betreur ook haar heengaan.
"Ons gaan haar baie mis," is die woorde waarmee Louise, haar oudste dogter, die onderhoud afsluit.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'