HOFMEYR NUUS - Inwoners van Hofmeyr het onlangs bymekaar gekom om die 150ste bestaansjaar van die dorpie te bespreek, alles word haarfyn beplan om hierdie dorpie 'n nuwe jas te gee voor die fees in September aanbreek.
Op 25 April het inwoners in die Victoria Boetiek Hotel se eetkamer vergader om planne te beraam rondom instandhouding en verfraaiing van Hofmeyr. Groot entoesiasme is deur 17 inwoners gedeel vir die dorpie en 'n komitee bestaande uit sewe lede is verkies om op 7 Mei die besigheidsplanne en impakstudies voor te lê.
Groter betrokkenheid vanuit alle gemeenskappe is ook bespreek en uitstekende voorstelle is gemaak. Die opgewondenheid wat gepaardgaan met verfraaiing en opheffing is aansteeklik.
Selfs busstoppe rondom Hofmeyr het elkeen 'n vrolike verflaag gekry. Hofmeyr is hierdie jaar 150 jaar oud en dié verjaarsdag word van 20 tot 24 September gevier.
Oudleerders van Hoërskool Hofmeyr en Laerskool Hofmeyr word uitgenooi om die skool en die uitstalling van aandenkings uit 'n vorige era te kom besigtig op Vrydag 20 September.
Die volledige program vir die naweek sal binnekort bekendgemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’