Update
GQEBERHA NUUS - Dit het op Woensdag 10 September in die landdroshof in Gqeberha aan die lig gekom dat ’n gevangene in die St. Albans-korrektiewe sentrum opdrag gegee het vir die moord op die streekhofaanklaer Tracy Brown.
Brown is op 31 Julie by haar huis in Young Park deur vier gewapende mans geskiet.
Twee mans is in verband met die moord in hegtenis geneem - Simthembile Xungu en Ayabulela Busakwe.
Die ander twee verdagtes is nog op vrye voet.
Die Valke-ondersoekbeampte, adjudant-offisier Shane Bosch, het bevestig dat opdrag gegee is om Brown te vermoor omdat sy "probleme veroorsaak het" vir die vriendin van 'n beskuldigde in 'n ander hofsaak.
Bosch het in sy beëdigde verklaring uiteengesit hoe Brown op die dag van die skietery by die huis aangekom het met haar lewensmaat en haar minderjarige kind in die motor.
Meer as tien skote is op Brown afgevuur, waarvan sommige haar in die gesig, buik en nek getref het. Sy is na 'n hospitaal gehaas, maar het later aan haar beserings beswyk.
Die advokaat vir die verdediging het 'n aansoek gebring dat een van die beskuldigdes, Simthembile Xungu, meer inligting bekend maak oor sy verbintenis met die misdryf en die sameswering om moord te pleeg.
Hierdie inligting word benodig vir Xungu se formele borgtogaansoek. Senior staatsadvokaat Marius Stander het egter die aansoek teengestaan.
Hy het gesê die ondersoek is in 'n sensitiewe stadium, aangesien die tweede skieter en die vierde verdagte nog op vrye voet is.
"Die tweede skieter is tans die hoofonderwerp van die ondersoek. Die opdrag om die oorledene dood te maak, is gegee deur 'n gevangene by die St. Albans Korrektiewe Sentrum," het Stander gesê.
Beskuldigdes
Xungu is deur ’n ooggetuie as die voorste passasier in die skieter se voertuig geïdentifiseer. Volgens selfoonrekeningrekords van 31 Julie, die dag van die moord, was daar 10 keer kommunikasie tussen Xungu en een van die betrokkenes in die moord.
Xungu het ná die moord onder 'n vals naam na Johannesburg gereis om by sy meisie te kuier en is op 21 Augustus in 'n taxi naby Queenstown aangekeer op pad terug na Gqeberha.
In sy bekentenis het Xungu gesê dat 'n vriend hom op 29 Julie genader het om "’n plan met Brown te maak".
Hy het volgehou dat hy die voertuigbestuurder was en nie een van die skieters nie.
Beskuldigde twee, Busakwe, is op 1 September in hegtenis geneem. In sy bekentenis het hy gesê Xungu het hom genader om die Polo te bestuur wat op die dag van die moord gebruik is.
Volgens Busakwe Xungu een van die skieters. Hy het verder bevestig dat Xungu die vuurwapen aan hom gegee het.
Xungu en Busakwe se selfone, asook 26 ander fone wat by St. Albans gekonfiskeer is, moet nog deur die polisie se kubermisdaadeenheid ontleed word.
Die saak word op Vrydag 19 September voortgesit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’