GRAAFF-REINET NUUS - ‘n Netwerk van organisasies het Woensdag 22 Februarie op uitnodiging van Solidariteit Helpende Hand bymekaargekom om mekaar beter te leer ken en uit te pluis waar wie mekaar kan help.
Die uitvoerende hoof van Helpende Hand, Hannes Noëth, het die byeenkoms gelei en met passie gesels oor gemeenskapsontwikkeling.
Die geleentheid was een van 'n reeks besoeke aan plattelandse dorpe om gemeenskapsontwikkeling te versterk en te kyk waar Helpende Hand kan help of leiding kan gee.
Helpende Hand het jaarliks ‘n tema waarop hulle hul bedrywighede baseer en vanjaar se tema is Hier’s my hand.
Noëth ken nood en verstaan dat gesinne, kinders en bejaardes landwyd geweldig swaarkry. Hy sê egter, “Waar daar mense betrokke is, is daar hoop,” en beklemtoon dat daar geen krag is soos gemeenskapskrag nie.
Helpende Hand fokus om hul hoofkantoor in Pretoria te desentraliseer om uiteindelik sterk verteenwoordiging van kantore landswyd en veral op die platteland te vestig. Die kruks lê egter in die mate waartoe mense gehelp word en die fokus rus op bemagtiging eerder as om mense afhanklik te maak.
"Projekte se fokus rus op drie O’s: ontwikkeling, opleiding en opvoeding. Hierdie wenresep kan van elke gemeenskapsprojek ‘n reuse en volhoubare sukses maak. Die uitgangspunt van 'verseker voorspoed' moet dien as die basis van elke besluit wat langs die pad geneem word. Suksesvolle projekte word nie alleen gemeet aan hoeveel mense geraak word nie, maar die volhoubare impak," sê Noëth.
Noëth vra mense om betrokke te raak by Helpende Hand en maandelikse donasies van so min as R50 te maak in stede van geld uit te deel op straat. Registrasie is maklik en aanlyn.
"Ondersteun asseblief ook ons handelsmerk, Ons Winkel. Dit help ons om meer maatskaplike werkers aan te stel aangesien al die fondse wat genereer word aangewend word om maatskaplike werkers se salarisse te betaal.
"Op so manier kan enigiemand ‘n hoop-draer wees vir hul gemeenskap. Waar ‘n gemeenskap hoop het, daar het hul krag.”
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'