MIDDELBURG NUUS — Die herstelwerk aan Meintjiesstraat, die hoofstraat van Middelburg, vorder nou teen rasse skrede danksy die flinke werk van TRIAMIC (voorheen Haw&Inglis).
Sam Renney van GIBB reken dat die nuwe teerlaag wat gelê word teen middel Augustus voltooi behoort te wees.
‘n Paar spoedwalle sal egter nog deel uitmaak van Meintjiesstraat aangesien dit die afgelope tyd verseker bygedrae het tot die vermin-dering van ongelukke ensomeer. Die nuwe spoedwalle sal darem laer wees as dié wat tot onlangs nog daar was.
Die N9 verbypad langs Middelburg is onlangs uiteindelik weer oopgestel.
Alle spoedwalle is verwyder en ‘n netjiese en veiliger ingang begroet nou die dorp vanaf Colesberg se kant.
Die gedeelte tussen Midros en Middelburg waar inwoners van Midros die pad oorsteek, is netjies aangedui met voetoorgange asook skramrelings in die middel van die hoofweg waar voetgangers kan wag tot hul die volgende baan weer kan oorsteek.
Die spoedbeperkings op hiérdie gedeelte van die verbypad is slegs 80 km/h. Padgebruikers word gemaan om asseblief altyd noukeurig op die uitkyk te wees vir voetgangers asook rondloper diere op die verbypad.
Die beplanning is dat lede van TRIAMIC teen einde van November sal begin om Middelburg te verlaat. Dit sal verseker ‘n groot invloed hê op die ekonomie en dorp self. Middelburg wil graag almal wat deurentyd betrokke was by die bou, verandering en ingenieurskap van die paaie rondom Middelburg bedank vir hierdie enorme positiewe bydrae en verbetering wat aangebring is.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'