KAROO NUUS - Die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal-Suid streekvergadering van Solidariteit Helpende Hand is onlangs in die Angora Lodge op Jansenville gehou. Leoné Mulder van Jansenville Helpende Hand-tak en haar lede het as gasvroue opgetree.
Altesaam 65 afgevaardigdes vanaf die Oos-Kaap en suidelike dele van KwaZulu-Natal het die geleentheid bygewoon.
Die streekbestuurder, Marlene Basson, was verantwoordelik vir die reëlings en is bygestaan deur Johan Nel vanaf hoofkantoor, asook die maatskaplike span van Helpende Hand. Tydens die streekvergadering is Helpende Hand se gemeenskapsherstelplan bekendgestel.
Die 100 punt-plan sal poog om gemeenskapsagteruitgang, veral nou na die grendeltyd en die Covid-19-pandemie, te strem en voorspoed te skep.
Helpende hand het reeds in hierdie streek 1 711 gesinne gedurende die grendeltyd gehelp en 108 instansies is ondersteun, wat skole, ouetehuise, versorgingsoorde en kinderhuise insluit.
Uit hierdie streek is R111 816 as kontantskenkings ontvang, terwyl daar R99 000 vanuit hierdie streek in die Noodfonds gestort is. R1,9 miljoen is bygedra tot die kosskenkingsfonds.
Altesaam R2,2 miljoen se kosvoorrade is in hierdie area uitgegee. Swak dienslewering op talle terreine, en veral by staatshospitale, was in hierdie tyd sigbaar. Die departement van maatskaplike dienste in die Oos-Kaap is steeds op fase vier en werk klaarblyklik nog steeds net elke tweede of derde week.
Aan die ander kant het daar fantastiese netwerke ontwikkel tydens die pandemie. Die afwesigheid van die maatskaplike dienste vanuit die Staat, het elkeen gedwing om wyer te dink.
Helpende Hand se takke in hierdie streek het alles ingespan om die pandemie te bestuur. Só kon hulle gesinne, families, en gemeenskappe ondersteun.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'