CRADOCK NUUS - Hierdie jaar se 161ste Cradock-landbouskou, wat op 23, 24 en 25 Oktober gehou is, het somer in oordaad gevier, met sonnige dae en swierige perde, silwerskoon kleinvee, skougehalte blomme en koeke, skatlike troeteldiere en stalletjies om elke koper te plesier.
Die voorsitter van die Cradock Landbougemeenskap was opgewonde om hierdie jaar die 25ste Lusernhooiskou aan te bied - die enigste lusernhooiskou in Suid-Afrika.
“Die skouterrein, op die walle van die Visrivier, is in 1974 totaal vernietig deur die vloed, en daar kon vir drie jaar nie skoue aangebied word nie, en tydens Covid is daar ook vir twee jaar nie skoue aangebied nie.”
Die Cradock-landbouskou is die grootste skou wat in hierdie deel van die Karoo aangebied word.
Dit is hierdie jaar weer goed ondersteun deur vertoners uit omliggende dorpe en distrike.
Stalletjiehouers het Donderdag begin om hul stalletjies op te stel, terwyl die onderskeie werkerspanne die skouterrein versier en die krale opgestel het.
Daar was Donderdagaand ’n potjiekosgeleentheid waar uitstallers kon saamkuier, en die jaarlikse spoggeleentheid, die Skoudans, is Vrydagaand aangebied.
Volgens die sekretaresse van die skoukomitee, Jacoba (Coosie) Crouse, was daar baie meer belangstelling met geweldige groei in die stalletjiebesprekings.
Bywoning was ook bo verwagting en stalletjiehouers het waarskynlik goeie verkope gehad.
Omtrent alle tipes wegneemetes waaraan mens kan dink was beskikbaar, en die roomysstalletjie en die kinderspeelgoed het beslis goeie verkope gehad.
Dames- en mansklere, skoene, tuisgebak, breidraad en naaldwerkbenodigdhede, potplante, vetplante, saailinge, en juweliersware het ook baie aandag getrek.
Die uitslae en foto's van die onderskeie skouklasse sal in afsonderlike beriggewing weergegee word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’