GRAAFF-REINET NUUS - Altesaam 20 mense ontglip 'n dreigende vlammedood op Tweede-Nuwejaarsdag.
Unathi Binqose, die mediaverteenwoordiger oor padveiligheid by die Oos-Kaapse departement van vervoer sê 20 mense was 2 Januarie in 'n ongeluk betrokke.
Niemand is in die ongeluk tussen 'n volgelaaide minibustaxi, 'n bakkie en 'n sedan op die R61-pad tussen Komani en Tarkastad dood nie.
“Vir ‘n slag is dit ‘n aangename ervaring om ‘n groot ongeluk - sónder lewensverlies - aan te meld,” sê Binqose.
Blykbaar het ‘n BMW met drie insittendes beheer verloor, omgeslaan en aan die brand
geslaan.
Al drie insittendes het daarin geslaag om lewendig uit te kruip en met geringe
brandwonde te ontsnap.
Die brand het na die veld versprei en het dik rook tot gevolg gehad - wat gelei het 'n sekondêre ongeluk, waar 'n volgelaaide minibustaxi teen 'n bakkie met drie insittendes gebots het.
Die taxi het aan die brand geslaan. All 14 insittendes kon betyds na veiligheid hardloop; insluitend die drie mense wat uit die bakkie kon wegkom.
Minstens tien mense is hospitaal toe gehaas, hoofsaaklik met brandwonde.
Ander het ligte kneusplekke en snywonde opgedoen. Tien insittendes het behandeling en vervoer geweier.
"Dit is 'n soete wending in ’n provinsie wat té veel noodlottige ongelukke in dié feesseisoen moes hanteer," sê Binqose dankbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’