GRAAFF-REINET NUUS - Die Graaff-Reinet Sokker- en Netballiga het hul stemme gevoeg by duisende ander wat sterk teen die voorgenome naamsverandering van Graaff-Reinet beswaar maak.
Graaff-Reinet is een van 21 plekke in Suid-Afrika waarvoor naamsveranderings vroeër die jaar deur die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, goedgekeur is.
Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Raad vir Geografiese Name die naamsverandering in 2024 ná oorweldigende teenstand tydens die openbare deelnemingsproses afgeraai het.
Volgens Laughton Hoffman, bestuurder van die Graaff-Reinet Sokker- en Netballiga, is die spanne wat by die plaaslike liga inskakel, diep ongelukkig oor die naamsverandering.
“Die saamgestelde raad wat oor die 10 sokker- en 10 netbalspanne aangestel is, verwerp die naamsverandering van Graaff-Reint," het hy gesê.
"Dit het ons in Asherville vier jaar geneem om hier op ons asvaal vlakte by Graaff-Reinet sport te kan speel, en ons kinders en werklose jongmense besig te hou, en daarom het ons het eenparig ons hande opgesteek en besluit ons gaan Gayton McKenzie se besluit teenstaan.
Die Graaff-Reinet Sokker- en Netballiga eis dat die naamsverandering onmiddellik laat vaar word.”
• Die ligaspanne van beide sokker en netbal het die 2026-seisoen op 14 Februarie met hul eerste wedsryde ingelui.
Hoffman het gesê die liga sien met opgewondenheid uit om die nuwe T-hemde wat bestel is, te ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’