CRADOCK NUUS - Vier mans is in hegtenis geneem in verband met 'n gewapende roof wat gister by 'n spazawinkel in Cradock plaasgevind het.
Volgens die bestuurder van CDK Sekuriteit, Ivan Stock, is die inhegtenisname die gevolg van 'n gesamentlike operasie tussen CDK Sekuriteit, Nxuba K9, die Nxuba Pops-eenheid, die Cookhouse SAPS-snelwegpatrollie, Paterson SAPS Vispol-lede, asook lede van die Nasionale Landelike Veiligheidsgroep.
Tydens die roof, wat in die vroeëoggendure van Sondag 14 Desember plaasgevind het, het die verdagtes geld en goedere uit die winkel geneem en met die eienaar se voertuig gevlug.
Hierdie voertuig is teen 10:30 verlate op die N10 gevind.
CDK Sekuriteit is kort na die roof in kennis gestel en die onderskeie afdelings van die polisie is gemobiliseer om inligting op te volg.
Kunsmatige intelligensie-hulpbronne is ingespan om die verdagtes op te spoor. 'n Silwer VW Polo, wat gebruik is om verder te vlug nadat die wegkomvoertuig verlaat is, is later die middag by die Paterson en Addo-kruising op die N10/R342 geïdentifiseer en onderskep.
Die verdagtes is in hegtenis geneem en die Polo, asook wapens wat in die Polo gevind is, is gekonfiskeer.
Die verdagtes sal vandag in die hof verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’