KAROO NUUS - Die klein gemeenskap van Hofmeyr, met slegs 3 680 inwoners, het tydens grendeltermyn hoop geskep deur saam te werk en so weerstand gebied teen omstandighede wat soms oorweldigend was.
Hofmeyr Boerevereniging het in samewerking met Hofmeyr NG Kerk 'n stelsel van voedselskenkings van stapel gestuur.
Monitors vanuit die omgewing het kontrole gehou in die onderskeie gemeenskappe. Waar die nood hoog was, is basiese voedselprodukte afgegee.
SASSA kospakkies is ook in Hofmeyr en omliggende gemeenskappe versprei, maar ongelukkig het dit talle SASSA-afhanklikes nooit bereik nie. Hofmeyr Hugs van Hope, 'n plaaslike vaardigheids-organisasie, het hul konstitusie tydelik aangepas om ook behulpsaam te wees met kosverspreiding, en het gepoog om Maartmaand 'n sopkombuis te begin.
Inwoners was egter ongelukkig omdat hul eerder kospakkies as etes wou ontvang, en het die sopkombuis ge-boikot. 'n Anonieme inwoner uit Twinsville het die situasie as volg opgesom: "Ons staan nie saam nie, want elkeen wil meer as die ander een kry, of hul dit nodig het of nie."
Niks het egter die wil en deursettings-vermoeë van die vroue by Hugs of Hope gedemp nie, en kort voor lank het hul deur middel van Mikro-sopkombuise, etes in die woonbuurte voorberei, en daar was op geen stadium gesinne wat ernstige voedselnood ervaar het nie.
Bettie Brown, inwoner van Twinsville skryf aan Hugs : "Ons dank die Heer dat Hy u oor ons pad gestuur het in die moeilike tyd." Solidariteit Helpende Hand het ook voorsien in voedselprodukte, asook Spar Molteno, Nola en De Koningboerdery.
Die gemeenskap van Hofmeyr sien met hoop uit na die toekoms. Intussen staan hulle saam, met deursettingsvermoë gaan hand-aan-hand die toekoms in.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'