Gallery
GRAAFF-REINET NUUS — Advokaat Gerrie Nel het verlede Donderdagaand, 10 Augustus, sowat 270 mense in die Botaniese Sportsaal in Graaff-Reinet met sy sjarme en humor om sy pinkie gedraai en almal het aan sy lippe gehang.
Nel was die ster van die aand en het na sy kort, maar kragtige toespraak die verhoog met die bekende TV-aanbieder Freek Robinson, die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel en lede van Hoër Volkskool se ATKV-jeugtak, gedeel.
Die geleentheid is bewerkstellig deur die ATKV-takke in dié dorp - die ATKV is goed verteenwoordig in Graaff-Reinet met een senior tak en drie jeugtakke hier gevestig. Hoër Volkskool het die ATKV bygestaan met die organisering van die geselligheid.
Tydens die funksie - waarvoor kaartjies reeds weke voor die tyd uitverkoop was - het Nel oor sy nuwe loopbaan as hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid gepraat.
As gespreksleier het Robinson die aand afgeskop deur Nel te vra oor hoe die privaat vervolgings in die praktyk gaan werk.
Nel het verduidelik dat enigiemand wat privaat wil vervolg eers 'n amptelike sertifikaat van die NVG moet bekom dat die NVG wel die saak oorweeg het en nie gaan vervolg nie.
Die privaat vervolger moet ook bewys dat hy die regsonkoste van die persoon wat vervolg word kan dek - dikwels 'n aardige bedraggie aangesien die verdediging gebruik maak van top advokate en ander regslui.
Na 'n spreekbeurt deur Kalie Kriel wat die geleentheid gebruik het om Afriforum se beeld 'n biedjie te poets, het lede van die ATKV-jeugtakke vrae aan die paneel gevra.
Interresaante vrae vanuit die gehoor het hierop gevolg en na afloop van die bespreking was daar niemand in die gehoor wat Nel se integriteit in twyfel getrek het nie.
• Dié aand is moontlik gemaak deur die ATKV wat as hoofborg opgetree het, sowel as Hoër Volkskool, Gerber, Botha & Gowar, Van Wyk Theron, Karoorus, PSG Wealth Insure, Montego Pet Nutrition, Honda George en Henties.
'We bring you the latest Graaff-Reinet, Karoo nuus'