GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinetters word genooi om volgende Woensdag die oggend by die Urquharthuis - op die hoek van Murray- en Somersetstraat op Graaff-Reinet - te geniet.
Dié oggend van 3 April, om 11:00 word daar ‘n bekendstelling van ‘Die Boerevrou Gedenkboek 2019’ deur dr. Jeanette van Rensburg híér gehou.
‘Die Boerevrou’ was die land se eerste Afrikaanse vrouetydskrif.
Dit is ‘n eeu gelede, van Maart 1919 tot Desember 1931, in Pretoria onder die redakteurskap van die eienares, Mabel Malherbe, uitgegee.
Die tydskrif was baie gewild onder haar lesers en is dwarsoor Suid-Afrika gelees, en is selfs ook ver buite die land se grense versprei.
Vandag kan ‘Die Boerevrou’ bestempel word as ‘n ryk skat van inligting oor die Afrikanervrou en haar leefwyse in die vroeë 20ste eeu.
Jeanette van Rensburg het met ‘n doktorale studie in kultuurgeskiedenis bevind dat dit verteenwoordigend was van die historiese lesers en ‘n beduidende groep Afrikaanse vrouens se lewensuitkyk en daaglikse lief en leed weerspieël het.
Van Rensburg is die outeur en uitgewer van ‘Die Boerevrou Gedenkboek 2019’ wat in Februarie dié jaar by die Afrikaanse Protestantse Akademie (Pretoria) vrygestel is, waar sy geskiedenis doseer.
Dit is ‘n tydskrif-boek, ‘n geskiedenisboek met die gevoel van ‘n moderne tydskrif, omdat dit nie net die eerste Afrikaanse vrouetydskrif herdenk nie, maar ook die ontwikkeling van die vrouetydskrifwese in die algemeen.
Dit vertel vandag, na 100 jaar, die aangrypende verhaal van hoe die vrouens van ‘n volk opgestaan het na ‘n verpletterende oorlog en deur ‘n tydskrif, gewy aan hul belange in hul eie taal, in aanraking met die buitewêreld gebring is.
Met die gedenkboek neem Van Rensburg die leser op ‘n reis deur die huise en harte van ons Afrikaanse oumagrootjies, wat self nie meer hier is om hulle eie storie te vertel nie.
Diegene wat belang stel om die geleentheid by te woon, word gevra om asseblief hul teenwoordigheid te bevestig by Ansie Malherbe by 072 307 2551 of by Anziske Kayster by 082 897 5860.
‘n Beperkte aantal sitplekke is beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'