MURRAYSBURG NUUS - Twee keer 'n jaar, in die Murraysburg-distrik, is daar 'n unieke natuurverskynsel wanneer 'n swerm flaminke die plaas Badsfontein besoek. Vir Izak en Susanna van der Merwe, die eienaars van die plaas, is die besoeke van die flaminke 'n gekoesterde gebeurtenis wat deel van hul lewens geword het.
Die flaminke het nie altyd die plaas met hul teenwoordigheid bekoor nie. Die tradisie het na 1952 begin toe Izak se pa, Fanie van der Merwe, 'n privaat dam op hul plaas gebou het.
Hierdie dam is uniek omdat dit nie in 'n rivierloop gebou is nie, maar in 'n vallei. Dit dien hoofsaaklik as 'n besproeiingsdam en dit het 'n ideale rusplek vir die voëls geskep het. Oor die jare het die flaminke hierdie dam gekies om vir ongeveer twee weke te rus tydens hulle migrasie.
Izak vertel dat sy pa, Fanie, die damwal twee keer moes herbou – een keer in 1961 en weer in 1963, weens swaar reën. Sedertdien het die damwal gehou en selfs die hewige vloed van 2021 deurstaan. Izak is trots op die uniekheid van die dam en let op sy veerkragtigheid en deurslaggewende rol om die flaminke te lok.
Volgens Susanna is die omge-wing rondom Badsfontein ryk aan voëllewe, wat dit 'n aantreklike oornagplek vir die voëls maak - hulle kom vroeg in die somermaande van Oktober of November aan en reis dan suid. Hulle keer terug in Maart of April noordwaarts, - om die wintermaande vry te spring. Susanna sê dat sy opgelet het dat die flaminke in die aande met volmaan vlieg om ver afstande na nuwe rusplekke af te lê.
Verlede November het sowat 35 tot 40 flaminke by Badsfontein gerus, 'n kleiner getal in vergelyking met die vorige jare, wat gewoonlik sowat 100 voëls opgelewer het. Sy skryf dit toe aan die oorvloed rusplekke wat deur onlangse goeie reën geskep is.
Vanjaar het die flaminke teen die einde van April daar opgedaag en effens later as gewoonlik teruggekeer, weens warmer weerstoestande. Hulle het gebly tot Donderdag 30 Mei toe hulle met volmaan verder gevlieg het, noorde toe.
"Ek mis hulle altyd en is hartseer dat hulle weg is. Ek is lief vir hulle," sê Susanna. "Tot volgende jaar."
Flaminke op die plaas Badsfontein se besproeiingsdam. Foto's: Paul Avevant
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’