JANSENVILLE NUUS - Na dekades se handeldryf het Deyzel-vleismark in Jansenville onlangs sy deure permanent gesluit. Hierdie slaghuis was soveel meer as net 'n besigheid - dit was déél van Jansenville se hartklop.
Mandy Deyzel vertel dat dit hier is waar die gemeenskap kon aanklop wanneer die koskaste leeg en die nood groot was. Waar families wat kulturele plegtighede moes aanbied of seuns bos toe moes laat gaan kon vra vir hulp.
Waar plaaslike organisasies ondersteuning kon kry wanneer hulle funksies moes reël. "Niemand het ooit met leë hande uit Deyzel-vleismark gestap nie," sê sy.
Deyzel-veismark was wel bekend vir hul kwaliteit vleisprodukte en juis daarom het mense dit as 'n "moet-stop in Jansenville" bestempel.
Dit was ook die dorp se enigste tradisionele slaghuis wat nog op die ou slaghuis-konsep gewerk het.
"Ongelukkig het lewensverpligtinge die Deyzel-gesin in verskillende rigtings gestuur en na my eksman se skielike dood in Augustus verlede jaar, is daar nie een van ons wat die slaghuis voltyds kan bestuur nie," sê Mandy.
"Ons het dit aanvanklik as gesin bestuur en dit het goed gewerk, maar dis nou 'n nuwe jaar - die kinders studeer en ek is raadslid - so ons almal het ons eie plekkie om te vul.
"Daarom het ons dit goed gevind om hierdie besigheid te koop aan te bied en sodoende aan 'n nuwe gesin die geleentheid te gee om 'n tradisionele Karoo-slaghuis te besit." Die gebou maak nie deel uit van die verkoop nie, omdat dit gehuur word.
Mandy is dankbaar teenoor al hulle oud-kliënte. "Sonder elkeen se ondersteuning sou ons dit nooit die suksesvolle slaghuis kon maak wat dit geword het nie."
Wyle Eckhard Deyzel, voormalige vennoot van die Deyzel-vleismark. Sy skielike heengaan op 24 Augustus 2022 was 'n harde slag.
'Ons bring jou die nuutste Jansenville, Karoo nuus'