ABERDEEN NUUS - Jadene Nyssen (18), van Aberdeen Sekondêr, het Saterdag 11 Maart, haar lewenslange droom bewaarheid. Jadene het by die Oos-Kaapse provinsiale atletiekbyeenkoms in Oos-Londen 'n goue medalje in die o.20 400 m ingepalm en in die 800 m 'n silwer losgehardloop.
Met haar eerste en tweede plekke het sy dubbel OP-kleure verwerf.
Jadene het al voorheen deelgeneem aan die provinsiale byeenkoms, maar kon nog nooit provinsiale kleure verwerf nie.
"Ek het altyd daarvan gedroom om OP te verteenwoordig."
Sy neem nog al die jare kaalvoet deel aan naellope. "My ma is my inspirasie. Ek hardloop elke keer vir my ma. My ma was 'n atleet en sy spoor my aan. Dis iets wat ons deel. Mammie het gesê ek moet ons uit ons swaarkry uithardloop, want hardloop is wat ek kán doen. En dit sal ek aanhou doen totdat ek dit regkry."
As deel van die OP-junior atletiekspan sal Nyssen later vanjaar aan die SA nasionale toernooi deelneem.
Marius Frazenburg, onderwyser by Aberdeen Sekondêr, sê die datum en plek is nog nie aan die skool bevestig nie.
"Ons skool en ons hele dorp bars van trots en dankbaarheid oor Jadene se uitsonderlike prestasie. Natuurlik vergesel net ons beste wense haar."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’