GRAAFF-REINET NUUS - Dit gebeur nie gereeld dat twee - amper drie - broers kan spog dat hulle al op televisie verskyn het nie. As hulle nog boonop uit die Karoo kom, is daar seker meer as toeval ter sprake.
Die drie Homveld-seuns sal eendag die staaltjie aan hul kleinkinders kan vertel.
Brandon, wat in 2016 by Union High gematrikuleer het, was 'n "ekstra" in die rolprent Red Dust, wat in Graaff-Reinet verfilm is. Hillary Swank was in die hoofrol. Die rolprent is natuurlik ook op televisie uitgesaai.
Henk, 'n gr. 8-leerder by Union High, was ongeveer vyf jaar gelede as 'n vlagdraer gekies vir die rugbytoets tussen die Springbokke en Ierland wat in PE plaasgevind het. Dié toets is lewendig op televisie uitgesaai.
Die jongste, Rhyno, 'n gr. 3-leerder by Union Voorbereiding, is aangewys as finalis in die Wysneusies-kompetisie van Sonja Herold se Tjokker-program op televisie. Indien hy wen sal hy saam met Sonja en Tjokker op televisie verskyn. Boonop staan hy 'n kans om 'n groot prys te wen indien hy die meeste stemme kry.
Maar hy sal die hulp van Graaff-Reinetters nodig hê om sy droom te bewaarheid om ook, soos sy twee ouer broers, op die kassie te verskyn. Die dorp moet saamstem.
Om vir Rhyno te stem moet jy ST1033 na 47620 SMS.
Besoek https://sonja.wysneusies.tv/voorlopers/ om te sien hoe Rhyno vorder.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'