GRAAFF-REINET NUUS - Verlede Donderdagaand, 28 Februarie, was die skoolsaal van Laer Volkskool gepak met leerders, hul ouers en ander belangstellendes vanuit die skoolgemeenskap, wat die talentvolle sangers Willem Botha en Franja du Plessis in aksie wou sien.
Dié vertoning by LVS was deel van die heel eerste nasionale toer wat deur die kykNET Top 20-televisieprogram gereël is.
Die program se aanbieder, Willem Botha, het dié maand die pad gevat saam met die talentvolle Franja du Plessis om gehore regoor Suid-Afrika te vermaak.
By Donderdagaand se vertoning in Graaff-Reinet, het Willem en Franja al hul treffers gesing, terwyl die gehoor lekker makietie gehou het. Heerlike hamburgers en ander versnapperinge is deur die skool se OOV tydens die vertoning verkoop.
Alle fondse wat met dié vertoning geïn is, sal ten bate van die skool aangewend word. Die OOV bedank graag ieder en elk wat die konsert bygewoon het en spreek hul dank uit teenoor al die OOV-ouers wat gehelp het met die voorbereidings vir die aand.
'n Spesiale woord van dank word ook gerig aan Brenda Fourie vir die verkoop van die kaartjies, Villa Reinet wat die gaskunstenaars se verblyf geskenk het, Jean Vorster van Foto Express vir die druk van die kaartjies en plakkate en Van Wyk Theron vir die borg van die gaskunstenaars se etes.
Willem Botha.
Franja du Plessis en Willem Botha in aksie by Laer Volkskool.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'