GRAAFF-REINET NUUS - Jan Saayman (84), alombekend as 'Die Saaiman', is die afgelope naweek tydens 'n hartroerende diens in Graaff-Reinet gegroet. Alles wat oom Jan geplant het, het geil gegroei - kweek van groente was sy groot passie en liefde. Sy verskeidenheid groente was eerstegraadse produkte en so onlangs nog as 2018, het oom Jan 'n lieflike groentetuin by die daghospitaal met sy goue hande aangelê.
Oom Jan is op 25 September 1938 in Kendrew in Graaff-Reinet gebore.
Hy het sy skoolloopbaan by Lingcom Primêr begin, maar moes vroeg skool verlaat om te gaan werk om sy ouers te help. Later is hy myne toe en na vyf harde jare het hy vir die Viljoens op Adendorp gaan werk. Daarna het hy by die bou van Graaff-Reinet Primêr betrokke geraak en vir meer as twintig jare as opsigter daar gewerk. Na sy aftrede het hy hom op die verbou van groente toegespits.
Hy word oorleef deur vyf dogters, vyftien kleinkinders en agt agterkleinkinders. Oom Jan sal gemis word vir sy sagmoedigheid, nederigheid en hardwerkendheid en natuurlik ook vir sy heerlike, voedsame groente.
Oom Jan was ten tyde van sy dood by sy dogter Verity Claassen en haar man, Eddie in Worcester. Hy is die afgelope naweek, Saterdag 25 Februarie, uit sy huis in Kromstraat in Santaville in Graaff-Reinet begrawe.
Oom Jan Saayman se dogter, Verity Claassen.
Oom Jan Saayman het groen vingers gehad.
Die mooi sonneblomme in Santaville is ook deur oom Jan geplant. Foto's: Neco Bokwe
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'