CRADOCK NUUS - Elaine van Loggerenberg van Cradock se wollerige kat, Barbie-girl, het vir meer as sewe weke spoorloos verdwyn.
Elaine het byna moed opgegee dat haar katjie ooit weer teen haar bene sal skuur, maar op 25 Junie het Elaine 'n wonderlike Sondag beleef.
Sy deel self haar storie met lesers...
"Gewoonlik as ek in die oggend die agterdeur oopmaak, het Barbie-girl ingehardloop en kom kossies eet. Maar sowat twee maande gelede was sy skoonveld. Ek het aanvaar sy kuier iewers, maar toe sy in die volgende paar dae steeds nie haar verskyning maak nie, het ek haar verdwyning op Facebook gesit.
"Die dae het 'n maand geword. Ek het haar so gemis, maar ek het bly hoop sy kom terug. Maar niemand het iets geweet van my Barbie-girl nie.
"My diere is soos my kinders. Barbie-girl is baie sku vir mense en het nie sommer na enige persoon gegaan nie. Later het ek maar gedink - as ek dan net haar liggaam kan kry om te begrawe en afskeid te neem sou ek ook rus kry.
"Maar daai Sondagoggend toe ek koffie drink sit ek my selfoon aan, en sien haar foto's op Cradock Adverteer met die vraag of iemand 'n katjie vermis. Die tweede foto wat geplaas is wys hoe sy haar pootjie uitsteek. Sy doen dit as sy vra: 'Krap tog nog my koppie en moenie so vinnig ophou nie!'
"Toe sê ek - dis my kat en ek bel dadelik. Marius Koegelenberg antwoord toe die foon en bly so wraggies net 'n huis van my af. By Marius gekom, bring hy haar uit. Barbie-girl was egter vreemd en baie verwilderd, maar ek het haar huis toe gevat. Ai, sy was so maer - jy kon die ruggraat en heupbene voel. Ek het met haar in my kamer gaan sit en haar kop gevryf, en toe sy weer haar pootjie uitsteek, om te vra vir nog 'n krappie, toe weet ek verseker dis my Barbie-girl.
"Later het sy afgespring, badkamer toe gestap, teen die kosyn geskuur om te sê, 'Dis my huis die,' en toe het sy water van die stort se vloer af gaan drink soos altyd. Sy was duidelik tuis en het heeltyd gespin om haar vreugde te deel!
"Ons het haar uitgeborsel want sy was vol klosse en haar gunsteling lewerblokkies vir haar gegee wat sy opgeslurp het.
Ek kan nie genoeg dankie sê dat sy terug is nie. Gelukkig kom Barbie-girl toe ook weer!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’