CRADOCK NUUS - Die Cradock-gemeenskap en oudleerders van Hoërskool Cradock het die afgelope week vasgenael gesit voor die TV toe 'n bekende oudleerder, dr. Lestonn Wade Lawn, as gas op die program, Minki, opgetree het.
Dr. Lawn, seun van Llewellyn en Velma Lawn van Cradock, het 1999 aan Hoërskool Cradock gematrikuleer.
Hy wou na matriek verder in musiek gaan studeer, maar sy ouers het geglo dat hy eerder as dokter moet kwalifiseer en het hy dus medies aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer.
Hy het sy studies in 2005 voltooi.
Hy is tans betrokke by die Renewal Instituut, wat spesialiseer in estetiese medisyne, teenverouderings- en kosmetiese behandelings. Hy konsulteer pasiënte oral in Gauteng.
"Dit was reeds my aanleg vir musiek en kuns wat my belangstelling in die behoud van skoonheid aangewakker het. Om skoonheid te skep, is immers 'n kuns," vertel hy tydens sy onderhoud op TV.
Hy het sy internskap en gemeenskapsdiens by Een Militêre Hospitaal in Pretoria voltooi en het daarna diens gedoen in ongevalle in beide Pretoria en Ierland. Daarna het hy as algemene praktisyn in Pretoria gewerk.
"Ek het dadelik begin om addisionele opleiding te volg sodat ek my kon kwalifiseer in estetika, want toe ek aanvanklik begin praktiseer het, was dit 'n onbekende veld in Suid-Afrika. Aanvanklik het ek as algemene praktisyn ook estetiese medisyne gedoen, maar sedert ek by die Renewal Institute aangesluit het, spesialiseer ek slegs daarin.
"Maar estetika is nie net skoonheidskeppend nie. Elke persoon wat opdaag vir behandeling se innerlike welstand en geestesgesondheid moet ook aandag geniet, en die estetiese spesialis moet verantwoordelik genoeg wees om te weet watter behandeling van hulp sal wees en watter behandeling oneties sou wees en nie, op lange duur, nadelig vir die pasiënt sal wees nie."
Dr. Lawn het ook die sertifisering van die Amerikaanse Estetiese en Anti-verouderingsinstituut verwerf. Hy bly graag by met verdere ontwikkelings in sy veld van belangstelling en deurloop ook voortdurende opleiding by die Renewal Institute.
As ywerige musikant vind hy dit ontspannend om in 'n koor te sing. Hy het ook in 'n stadium in die Camarata-koor (Universiteit van Pretoria) gesing asook in die Singkronies en die Horizons-projekkoor. Hy is 'n uiters begaafde pianis en trompetspeler.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'