CRADOCK NUUS - Die koekkompetisie by die onlangse Cradock-landbouskou is goed ondersteun en die beoordelaars moes wik en weeg om die beste uit die 17 top inskrywings te bepaal.
Volgens die sameroeper, Mari-Louise Nel, is die allermooiste koeke ingeskryf, maar dit wat onder die versiering geskuil het, het die deurslag gegee.
Dit was duidelik dat deelnemers weke lank vooraf beplan het aan die pragkoeke, en hulle is vroeg Saterdagoggend, 25 Oktober, by die groot wit tent op die wal van die Groot Visrivier afgelewer.
Verskillende klasse
Die beoordelaars, Tersha de Kock, Heyla Meyer en Duane Pio, was vanuit die gemeenskap, en daar was genoeg koek om hulle lank aan die proe te hou!
“Dit was verblydend om te sien dat daar 17 inskrywings was, maar ek het voorgestel dat daar volgende jaar verskillende klasse moet wees," het Meyer agterna gesê.
"Die koeke is aantreklik en puik aangebied, oor die algemeen was koeke van hoogstaande gehalte.
Beoordeling is egter bemoeilik deur die feit dat vrugtekoeke teen sponskoeke moes meeding, en dan was daar nog meringue-koeke ook.
Dit is egter 'n oplosbare probleem wat in die toekoms vermy kan word."
Wenners
Lea Consalves was die wenner, met Catharina Wolmarans kort op haar hakke in die tweede posisie, en Nyaradzayi Murapwani in die derde plek.
Talle borge het betrokke geraak, waaronder True Living, The Shed, Heavenly Banquet, Eloïse Parfuum, Karoo Manna en Marie Brummer.
Baksters kon hul koeke na die tyd terugneem, of te koop aanbied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’