CRADOCK NUUS - Jongboer Louis Botha van Hillside Boerdery-meatmasters het op 24 September as die algehele wenner van die Lamb Champs 2025-kampioenskappe by Boland Landbouskool aangewys.
Die kompetisie, ’n SAAI-inisiatief, word geborg deur Pick n Pay, Toyota en Old Mutual, en lok jaarliks duisende belangstellendes.
Vanjaar het sowat 4 000 mense die geleentheid bygewoon.
Lamb Champs bied ’n platform waar die land se beste lamprodusente hul diere vertoon, met verbruikers skakel en toegang tot nuwe markte kry.
Dit is nie net ’n kompetisie nie, maar ook ’n viering van tradisie, gehalte en die toewyding van Suid-Afrikaanse familieboere.
Botha se meatmaster het die beoordelaars beïndruk met sy geur, smaak en kwaliteit.
Lammers word volgens verskeie kriteria beoordeel, insluitend karkas, voorkoms, bouvorm, vetpersentasie, aroma en algehele geur. Altesaam 80 lammers is ingeskryf.
Op pad terug Karoo toe het Louis en Monya Botha, met Graaff-Reinet Advertiser gesels.
Interessant genoeg het Monya ook meegeding met haar landskaap, terwyl Louis se broer, Reuben, met ’n merino met die vierde plek weggestap het.
Botha glo dat die natuurlike veldweiding rondom Cradock sy lammers hul unieke karoogeur gee.
“Ek het nie wenwenke nie - dit is die Here se genade en die liefde wat ek daagliks in my diere belê,” vertel hy.
“As jy mooi kyk na die natuur, kyk die natuur mooi na jou.”
Dit was Botha se tweede deelname aan die kompetisie, nadat sy vrou hom verlede jaar aangemoedig het om vir die Karoo Lamb Champs in Graaff-Reinet in te skryf.
“Vir my is skaapvleis deel van ons kultuur - van ’n tjoppie op die kole tot Sondag se skaapboud,” sê hy.
Botha hoop om meatmastervleis as ’n nismarkproduk verder aan verbruikers bekend te stel en moedig ander boere aan om ook deel te neem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’