CRADOCK NUUS - Op Sondag 9 November het oudleerders en oudsoldate van die Cradockdistrik Papawerdag herdenk met 'n seremonie by die Cradock Hoërskool Museum.
Die erewag is deur die 2026 CHS prefekte uitgevoer, en ds. Corne Slabbert het inspirerende skrifgedeeltes gedeel.
“Dit was wonderlik om veterane en lede van die publiek te verwelkom om by ons aan te sluit in die herdenking.
Eben van Heerden, geskiedenisfasiliteerder, het as seremoniemeester gedien en die geleentheid met waardigheid en trots gelei,” het Charles Garth, voorsitter van Cradock Hoërskool se alumni en oud-grensoorlogsoldaat, gesê.
Huldeblyk
'n Spesiale huldeblyk is gebring aan William Faulds VC, 'n oudleerling van Cradock Boys’ High School, wat tydens die Eerste Wêreldoorlog uitstaande dapperheid by Delville Wood getoon het.
Faulds het by die Suid-Afrikaanse magte aangesluit om tydens die Eerste Wêreldoorlog te veg.
Saam met Faulds het Arthur Schooling ingeskryf en die twee het saam geveg onder bevel van generaal Louis Botha in die Suidwes-Afrikaanse Kompanje, in Egipte, en ook in die Slag van die Somme in Frankryk.
Uitsonderlike soldaat
Wat het William Faulds (21), 'n gewone jong man wat by Midland Motors Garage in Cradock gewerk het, gedoen om hom te laat uitstaan tydens ’n die epiese bloedbad wat by die Somme afgespeel het?
Tydens die Slag van Delville Wood (deel van die Somme-veldtog) op 16 Julie 1916 is Arthur Schooling tussen die Suid-Afrikaanse en Duitse linies in niemandsland doodgeskiet - ’n geweldige skok vir Faulds.
Op dieselfde dag is Lt. Arthur Craig (1ste Bataljon Bravo Company) ook raakgeskiet en het naby Schooling se liggaam in die moordgebied gewond gelê.
Uitstaande dapperheid
Drie voetsoldate, William Faulds, Clifford Baker en Alexander Estment het hul lewens gewaag om hul makker uit die moordgebied te gaan red. Baker is swaar gewond in die poging.
Lt. Craig het oorleef en sy wonde het later in die Richmond Hospitaal in Londen herstel.
William Faulds en Alexander Estment het na hul posisies in die bos teruggekeer en voortgegaan met veg.
Slegs twee dae later het Faulds weer die gevaar onwrikbaar in die oë gestaar in 'n soortgelyke situasie, toe 'n kritiek gewonde kameraad in niemandsland lê.
Weer het hy homself blootgestel - hierdie keer alleen - deur die loopgrawe te verlaat, niemandsland binne te gaan en een van sy kamerade van ’n gewisse dood gered, waarna hy hom na 'n mediese stasie gedra het.
In die London Gazette van 9 September 1916 Sy dapperheid is bekend gemaak dat hy met die Victoria Kruis bekroon is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’