KAROO NUUS - 'n Konstabel verbonde aan Ladismith-polisie, wat onlangs van Covid-19 genees het, het dié week besluit om sy ervaring met ander mense te deel.
Konst. Aneist Lingerveldt (26) sê hoewel hy weet almal ervaar nie dieselfde simptome nie en almal raak nie ewe siek nie, wil hy steeds vir mense vertel waardeur hy gegaan het om die stigma rondom die siekte, en veral die vrees wat mense het vir diegene wat Covid-19 het of gehad het, te breek.
Volgens hom is hy op 23 Junie met Covid-19 gediagnoseer.
"Ek is die Maandagaand in die hospitaal opgeneem, waarna ek na die PetroSA kwarantynfasiliteit verskuif is. Mense moet ook besef dat kwarantyn daar is vir ander mense se veiligheid ook en nie net jou eie nie. Ek was nie eenkeer bang nie, omdat ek geweet het dat God saam met my is en ook omdat ek 'n gesonde persoon is en redelik fiks is."
Volgens hom was die eerste week van kwarantyn vir hom lewensveranderend.
"Jy besef skielik dat die siekte niemand se toestemming vra nie en dat jy ekstra hard moet baklei. Ek het nie ernstige simptome gehad het, maar het hy wel erge lyfpyne en kopsere in die eerste twee dae gehad. Ek het Acc200, Airmune, Corenza C en Paracetamol gebruik en binne die tweede week het ek begin beter voel."
Lingerveldt sê mense moet onthou dat dit met enigiemand kan gebeur.
"Ek het in Willowmore gewerk waar ek waarskynlik aangesteek het. Mens weet nooit of die persoon met wie jy in aanraking kom, reeds siek is nie. Onthou net dit kan met enigiemand gebeur, maar dit beteken nie jy gaan doodgaan nie. Wees sterk, bid en glo dat jy gaan gesond raak."
Lingeveldt sê: "Ek is nou ten volle herstel en begin eersdaags werk. Dankie aan al my kollegas en vriende vir julle ondersteuning."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'