ABERDEEN NUUS - “Ek het geskrik toe die alarm van die speurderskantore van die SAPD net ná sewe die aand afgaan. Ek het toe gaan ondersoek instel,” vertel Hannes Uysen, buurman van die huis wat in Aberdeen in 'n brand verwoes is.
"’n Egpaar met drie kinders het so drie maande gelede daar ingetrek, nadat hul vanaf Albertinia na Aberdeen verhuis het. Hulle het die huis geërf nadat hul moeder oorlede is," deel Uysen mee.
"Die huis in Van Riebeeckstraat 11 se krag het blykbaar die oggend afgegaan en toe hulle nie hulp kon kry om die krag dieselfde dag te kom herstel nie, het hulle besluit om vir een aand van kerse gebruik te maak.
"Die kers het op die spieëlkas gestaan, maar wou nie behoorlik brand nie omdat daar 'n trek vanaf die voordeur was. Toe hulle egter uit die vertrek gaan om die voordeur toe te maak, het die kers omgeval en klere wat agter die deur gehang het, het vlamgevat. Toe die gesin opmerk dat hul klere brand, het hulle gaan water haal, maar die drukking was so laag dat die brand al baie ver versprei het met hul terugkoms," vertel Uysen.
"Die SAPD-personeel is vinnig na die toneel, want al die dokumentasie van die speurders word in die kantoor wat langs die woning is in 'n kluis gestoor. Daar moes vinnig te werk gegaan word om die papierwerk uit die gebou te kry voordat dit ook vlamvat.
"Tydens die polisie se ingryping in die speurders se kantore, het dik rookwolke reeds deur die plafon gekom, want die twee geboue deel 'n middelmuur. Die gebou wat die speurders se kantore huisves het gelukkig nie vlamgevat nie," sê Dora Kritzinger van Aberdeen-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'