Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO'S - Cypress Grove se inwoners het gisteraand verbete geveg teen 'n vlammehel wat gedreig het om die huise van die buurt te verswelg.
Die brand het gistermiddag 20 Februarie, omstreeks 15:30, in die oewer van die Sondagsrivier begin en is deur inwoners en die plaaslike brandweer onder beheer gebring.
Volgens Shawn West, 'n inwoner van die buurt en ook eienaar van East2West Construction, het die verskriklike hitte en 'n laatmiddag windjie teen ongeveer 18:30 weer die smeulende oewer laat vlamvat.
Inwoners van die buurt en groter Graaff-Reinet het almal ingespring om huise en omliggende bome nat te spuit, maar toe skop beurtkrag in en is daar byna geen waterdruk nie. "Ons het 'n kragopwekker nader gesleep om water vanuit die boorgat van John Maritz te pomp om water te kry," vertel West.
Die brand het gistermiddag, 20 Februarie, laat gedreig om die buurt te verswelg. Foto: Priscilla West
West vertel verder dat die brandweerwaterpunte wat op die sypaadjies is, amper geen water gehad het nie, en moes die brandweer water vanuit 'n ander waterbron aanry.
Dennis Fortuin, hoof van beskermingsdienste in die DBNLM sê dat die druk van die water baie swak was as gevolg van beurtkrag en dat die wa op ander punte wat 'n sterker druk gee, gaan haal het.
"Elke keer wanneer hulle wegry het die brand net weer oorgeneem en gedreig om in die buurt te versprei," sê West. Volgens West is die pad wat agter die Sondagsrivier teen Cypress Grove loop, jare gelede toegemaak as gevolg van onwettige storting.
VIDEO:
Dit het ook glo die brandweer se taak bemoeilik omdat hulle nie die brand van daardie kant af kon beheer nie.
John Maritz, sê dat die brand reg agter sy, en twee van sy bure se huise begin het. "Almal het ingespring, self André Viljoen het kom help met sy watertenk. My kinders se trampolien is totaal vernietig en een vrou wat gehelp het se hare het aan die brand geslaan van die fyn kole wat gespring het," sê Maritz.
Hy sê dat die brand oor hulle huis en straat na twee ander huise gespring het, maar dat hulle dit darem onder beheer kon bring.
Inwoners het gisteraand, 20 Februarie, toegekyk hoe vlamme om die Sondagsrivier brand en dreig om die buurt te verswelg. Foto: Priscilla West
"Ons is geweldig trots op ons gemeenskap, almal het ingespring, baie dankie, sê Maritz, wat teen 09:30 vandag, nog besig is om die smeulende rivieroewer nat te maak.
Benito Herandien, waarnemende brandweerhoof, sê dat die brand as 'n gewone veldbrand ontstaan het en dat die wind dit later in die palmbome ingedruk het.
VIDEO:
Volgens hom het die brandweer te alle tye die brand onder beheer gehad het en dat hulle die brand geëvalueer het soos dit ontwikkel het.
Die brandweerstasie kan by 060 425 0113 gekontak word indien u 'n brand wil aanmeld.
Die oorsaak van die brand word ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’