GRAAFF-REINET NUUS - Die waarnemende Sarah Baartman-distrikskommissaris, brigadier Asogran Naidoo, het ’n multidissiplinêre span geloof vir hul uitstekende samewerking en doeltreffende optrede tydens ’n hoë-impak Blitz-operasie wat Donderdag 29 Januarie in Willowmore uitgevoer is.
Die operasie, waaraan lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Dr Beyers Naudé Plaaslike Munisipaliteit, die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Omgewingsake, die Departement van Binnelandse Sake asook die Departement van Sport, Kuns en Kultuur deelgeneem het, het hoofsaaklik op wetstoepassing gefokus om nakoming van regulasies en algemene veiligheid te verseker.
Volgens adjudant-offisier Majoli Nkohli, woordvoerder van die Oos-Kaapse Polisie, het die operasie verskeie voertuigkontrolepunte ingesluit en is dit verder uitgebrei na ander operasionele konsepte, onder meer inspeksies by spaza-winkels om nakoming van wetgewing te monitor.
“Verhoogde sigbaarheid en doeltreffende polisiëring is van kardinale belang om die veiligheid van inwoners, ook in landelike gebiede, te verseker,” het Nkohli gesê.
Tydens die operasie is drie buitelandse burgers in hegtenis geneem weens oortredings van die Immigrasiewet.
Twee verdagtes is ook beboet vir die indiensneming van ongeregistreerde buitelandse burgers.
Verder is drie motoriste beboet vir oortredings van die Nasionale Padverkeerswet, terwyl verskeie voertuie en persone deursoek is.
Die operasie het sonder enige ernstige voorvalle verloop.
Brigadier Naidoo het die SAPD se volgehoue verbintenis tot die handhawing van veiligheid en sekuriteit binne die distrik beklemtoon.
“Hierdie tipe operasies sal voortgaan en na alle dele van die distrik uitgebrei word,” het hy afgesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’