STEYNSBURG NUUS - Lena Jeannette (Jenny) Anderson is op Woensdag 1 Desember in die Steynsburg-hospitaal oorlede.
Jenny se loopbaan het ná skool begin as 'n kassiere by 'n besigheid in Uitenhage. Vervolgens het sy by die Masonic-hotel, sowel as die Victoria Manor in Cradock as kelnerin en later as bestuurder gewerk.
Sy was later tronkbewaarder by die Cradock-gevangenis.
In 2014 verhuis sy en haar eggenoot Norman na Steynsburg ná sy aftrede. Hy was ook 'n bewaarder by die Cradock-gevangenis vir 32 jaar.
Haar dogter, Gillian Hendricks, sê haar ma was betrokke by die gemeenskap as raadslid van Woman Arise.
"Sy was 'n mense mens. Altyd reg om te help. Sy het haarself dikwels tekort gedoen om ander by te staan en sy was altyd nederig. Ons ma het ons geleer om teenoor almal dieselfde respek te toon, ongeag die persoon se ras, ouderdom, beroep of agtergrond. Mamma het ons geleer van ubuntu," vertel Gillian.
Sy laat haar vier kinders, 13 kleinkinders, een agterkleinseun en haar eggenoot, Norman, agter.
Die begrafnis is op Saterdag 11 Desember in Steynsburg.
'Ons bring jou die nuutste Steynsburg, Karoo nuus'