GRAAFF-REINET NUUS - ‘n Blitsstorm van hoëspoed wind, hael en swaar reën het Aberdeners gister agtermiddag vir skuiling laat spaander.
In minder as ‘n halfuur het ongeveer 25mm reën en hael in die dorp geval. Aberdeen se bekende stofstrate waar die wind dikwels stofperde in die strate afjaag, is in ‘n oogwink omskep in riviere met flardes reën wat deur die stormwind aangejaag is.
Heelwat inwoners het kort na die storm op plaaslike sosiale media beeldmateriaal gedeel van die waterskade in hul erwe.
Verskeie erwe is momenteel oorstroom, hoofsaaklik as gevolg van swak stormwatergeleiding.
Inwoners het gister van 32 tot 35mm reën gemeet in verskillende gedeeltes van die dorp. Ná gister se reën staan die nie-amptelike November-reënsyfer vir Aberdeen op 39mm teenoor die totale 5mm vir November verlede jaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’