BEAUFORT-WES NUUS - Drie van die vyf stemlokale in Wyk 7 van Beaufort-Wes se deure is vanoggend om 08:00 geopen vir spesiale stemme om die tussenverkiesing vir ‘n nuwe wyksraadslid in proses te sit.
Net meer as 4 500 kiesers is geregistreer om aan die eintlike stemdag, môre (24 Mei) deel te neem. Vandag sal spesiale stemme uitgevoer word by die drie stemlokale in Merweville, Beaufort-Wes en Noord van Leeu Gamka.
Die verkiesing word beveg deur die DA (Japie van der Linde as kandidaat), ANC (Stanley Ncanyesi as kandidaat) en EFF (Benjamin Faas as kandidaat).
Die tussenverkiesing is uitgeroep na die DA-burgemeester, Koos (George) Malooi, se bedanking uit die raad. Met 13 setels, waarvan die ANC aan ses vashou, die DA aan vyf (na Malooi se 6de setel vakant geraak het) en die KDF 1, is die vekiesing bepalend. Indien die DA wen en die KDF hul belofte van koalisie met die DA nakom, sal ‘n DA / KDF-regering dié Karoodorp weer regeer.
Indien die ANC wen, is hulle verseker van ‘n 7 setel meerderheid.
Met die 3 Augustus munisipale verkiesing het die DA 46,84% van die stemme in wyk 7 verower, terwyl die ANC 34,79% van die kruisies agter hulle naam gekry het. Die EFF het slegs 0,97% van die stemme gewen, maar sien kans om weer die verkiesing te beveg.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Karoo nuus'