BEAUFORT-WES NUUS - Die geveg om stemme in 'n bepalende munisipale tussenverkiesing op Beaufort-Wes, is in volle swang.
Woensdag 24 Mei het meer as 4 500 geregistreerde kiesers in wyk 7 weer die geleentheid om te stem vir 'n nuwe wyksraadslid. Die verkiesing word beveg deur die DA (Japie van der Linde as kandidaat), ANC (Stanley Ncanyesi as kandidaat) en EFF (Benjamin Faas as kandidaat).
Spesiale stemme kan op Dinsdag 23 Mei gedoen word.
'n DA-regerende koalisieraad met die Karoo Democratic Front (KDF) was goed op dreef na die 3 Augustus verkiesing, waar die DA en ANC elk ses setels van die 13 verower het. Die KDF het hul gewig agter die DA gegooi en in sewe-setel DA/KDF-koalisie het die ANC se Truman Prince regering op hul agtervoete gehad.
Op 27 Februarie 2017 besluit Koos Malooi, die DA-burgemeester en wyk 7-raadslid om met onmiddelike effek te bedank en 'n hangraad met geen meerderheid setels is deur Malooi agtergelaat.
Met die 3 Augustus munisipale verkiesing het die DA 46,84% van die stemme in wyk 7 verower, terwyl die ANC 34,79% van die kruisies agter hulle naam gekry het. die EFF het slegs o,97% van die stemme gewen, maar sien kans om weer die verkiesing te beveg.
Jaco Londt, DA lid van die parlement het Donderdag gesê hulle (die DA) gaan alles in die stryd werp om weer wyk 7 te wen. "Ons is steeds in koalisie met die KDF. Juis om dié rede het die KDF onderneem om nie aan die verkiesing deel te neem nie en die DA te ondersteun."
Londt het 'n wen in die tussenverkiesing as "bitter belangrik" vir die DA beskryf. Hy is reeds meer as twee maande in Beaufort-Wes besig met 'n DA-verkiesingsveldtog.
Stemlokale vir die verkiesing is:
1. Beaufort-Wes Primêre Skool (In die dorp self)
2. Soetdoringsvlei-gemeenskapsaal (In die Karoo Nasionale Park
3. Klawervlei Primêre Skool (Noord van Leeu Gamka - rigting Fraserburg)
4. George Frederick Primêre Skool (Merwe-ville)
5. Tweerivier gastehuis (Tussen Merweville en Beaufort-Wes)
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'