GRAAFF-REINET NUUS — Ou telefoongidse het gewoonlik hul gang gegaan: die dun bladsye is gebruik om twak te rol of in daardie befaamde long drop geboutjies op menige plaas.
Maar ou telefoongidse (tussen 1970 en 1994), is vir navorsers van die Enterprise Observatory van SA van groot waarde.
Johannes Wessels, direkteur van die navorsingmaatskappy, beskou telefoongidse as die enigste historiese bron wat beskikbaar is om die besigheidsamestelling van dorpe in die verlede te bepaal.
EOSA het telefoongidsinligting oor besighede van 1946 bekom. Hy versoek lesers van die Advertiser om ou telefoongidse van die jare 1960 tot en met 1994 (wit bladsye) wat nog in ‘n kerkkantoor, plaashuis of tussen “Ouma se goed” mag wees, vir EOSA beskikbaar te stel.
EOSA wil ‘n vergelykende studie maak van hoe die besigheidsamestelling van dorpe in verskeie provinsies verander het sedert 1946.
Enige ou telefoongidse van Graaff-Reinet, Willowmore en Aberdeen sal hoog op prys gestel word.
EOSA kan gekontak word by Johannes@failsafe.co.za of by 083 4478147.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'