MIDDELBURG NUUS — Katriena van Loggerenberg van Middelburg, het die pas afgelope Saterdag, 24 September, tydens ‘n onthaal haar 100ste verjaarsdag gevier.
Die besondere mylpaal by Farmhouse Grill was bygewoon deur haar twee dogters Minnie en Rina, peetdogter, vier van haar kleinkinders en vier van haar agter-agter kleinkinders.
Katriena het na die geselligheid genoem dat sy so bly was dat sy almal tesame kon sien om dieselfde feestafel en dat sy dit innig waardeer dat sy hulle met haar vriendekring kon deel. Sy was jammer dat sy nie die een agter-agter kleinkind asook die agter-agter-agter kleinkind, John-Francois Kleynhans met sy mams kon ontmoet het nie. Sy kan egter verstaan dat die kleinding te klein is vir so ‘n reis, want hy is maar vyf maande oud. ‘n Pragtige foto van die kleinding was vir haar werklik ‘n groot present.
Dit moet gemeld word dat vir Katriena besonders was om die verjaarsdag met twee van haar gewese predikers asook die huidige predikant te vier. Sy het aktief deelgeneem in al die reëlings, uitnodigings en die byhou van die gastelys. Droë humor is nog steeds deel van haar lewe... Tydens die tel van die gaste oor die foon met haar dogter, meld sy dat die telling eintlik 44 is. Haar dogter vra haar na so effense stilte aan die anderkant wie nommer 44 is?? Die antwoord was dat sy vergeet het om haar self te nooi!
Die ander gaste se ouderdomme het gewissel van 8 maande tot 99 jaar!
‘n Rangskikking van 100 rose in ligroos waarin die 100 met wit rose uitgebeeld was is deur die plaaslike Leana Bloemiste geskep. Moet nie die verjaarsdag koek vergeet nie! Dit het perfek by die tema aangepas met die pragtige pienk rose en woorde “100 jaar besondere mylpaal behaal”. Die spesiale koek is deur ‘n professionele bakker van Johannesburg gebak.
Aangesien die gaste na die heerlike 3-gang maaltyd nie meer vir ‘n krummeltjie koek plek gehad het nie, is die verjaarsdag koek liewer uitgehou tot Maandag. Dit is toe by Huis Karee verorber op die werklike dag van haar verjaarsdag op 26 September.
'Ons bring jou die nuutste Middelburg, Karoo nuus'